Julius Malema se nuutste monduitspoelsessie was oor die Universiteit van die Vrystaat, wat volgens hom steeds deur wit Afrikaners bestuur word. Hy meen die instansie sal getransformeer word na die nuutste verkiesing en voeg sommer in dieselfde asem by hoe diskriminerend die huidige koshuisbeleide is.
‘n Mens wil vinnig op jou perdjie klim en die vent sommer dadelik reghelp, maar dis bes moontlik die laaste ding wat gedoen moet word. Want dis presies wat hy wil hê.
Malema is 'n ANC-guerilla – skiet nou, vra later. Trouens, ek dink nie hy sal ooit die vrae vra nie. Gewis is dit dat die doel van elkeen van sy toesprake opsweping is; nie net van sy toejuigende ANC-jeugliga aanhangers nie, maar veral ook van elke ANC-teenstaander, oor wie almal hy iets te sê het. Hy moet ontstel, hy moet ontstig; hy doen die vuilwerk wat die party se seniorlede om vanselfsprekende redes nie kan doen nie.
Om vir hom kwaad te raak, is om na sy pype te dans. Dis om hom die knee-jerk reaksie te gee waarna hy opsoek is. Daarom is dit dalk wys om nie gal af te gaan oor watter idioot hy is nie.
Dit help nie ons raak kwaad nie. Dit help natuurlik ook glad nie hy kots elke woord wat oor sy lippe kom teen 'n snelle pas uit nie, maar om blindelings daarvoor kwaad te raak, help nog minder. 'n Snertspuwende idioot wat die land rondreis en aanhits waar hy gaan, is erg genoeg; om hierby boonop 'n wedersydse modderslingery te voeg, is erger.