Niks nie, eintlik.
En tog soveel.
Die Suid-Afrikaanse musiekmark verdrink daarin. Elke Jan Rap en sy gegoede pa (hy het 'n ateljee gebou) karring formulaïese stampliedjies uit met “bokkie” en “baby” en “sexy meisie” en ander begrippe wat tot die hippotalamus spreek. Sokkiemusiek verwag die minste van sy aanhangers – dit vereis nie vir een oomblik dat jy nie die woorde moet analiseer nie, dit gee nie 'n snars om of die sanger nootvas is of onduidelik sing of die uitspraak van ‘n kat op hitte het nie.
En dis piekfyn.
Dit help nie om 'n klag van musikale flouheid teen sokkietreffers te berde te bring nie. Dit hou eenvoudig nie water nie. Dieselfde sal dan gedoen moet word met RAP-musiek en hul tewe en dames van die nag (want dit bevorder stereotipes), met polskerf musiek à la Staind (want dis uiters passé), met rockers se soms flou pitch en onvaardige musikante, met die neus-in-die-lug houding van talle klassieke musici en 'n rits ander dinge.
Sokkietreffers is net dit – sokkietreffers. Dis musiek waarop daar gedans moet word. Jy kan hoe teen Nicholis Louw of Kurt Darren protesteer, maar by die volgende troue sal jy woelig op die maat van 'n supertreffer wriemel en dit gate uit geniet.
Wat skort dan met sokkietreffers?
Myns insiens is dit die manier hoe hulle bemark word.
Dink gou 'n bietjie – hoe word Kurt Darren-klone se plate verkoop? As topverkopers. As die multiplatinum superalbum van 'n geniale kunstenaar. As die enigste soort genre wat daar is wat saakmaak. As baanbrekerswerk. As die beste in die Weste. As iets wat jou sokkies aantrek, jou veters knoop, jou ontbyt maak, jou kar se olie nagaan en op die koop toe jou sekslewe verbeter, jou tuin maak en al die brandblussers in jou huis hervul voor die vervaldatum. Its that good.
Dit word bemark as iets wat dit hoegenaamd nie is nie – die enigste en beste musiek op aarde. Hoë kuns.
In skrille kontras hiermee staan die gehalte van die produkte gewoonlik – amateur albumomslae, CD-boekies deurspek met setfoute, onoorspronklike musiek, saai lokfrases (“SY GAAN DIE LAND AAN DIE BRAND SING! DEFINITIEF EEN VAN ONS GROOTSTE KUNSTENAARS!”) en Comic Sans oor opgeblaasde foto’s op idiosinkratiese bussies se deure.
En dan natuurlik die geykte verwysing na verkope.
Om goudstatus in Suid-Afrika te bereik met albumverkope moet jy 20 000 eenhede verkoop. Platinumstatus is 40 000 eenhede.
In Amerika is dit onderskeidelik 500 000 en 1 000 000.
As 'n musikant in Suid-Afrika 20 000 eenhede verkoop, verwag bemarkers die publiek se breine moet ontplof. Plakkate en CD-omslagte verkondig dan hoe die “kunstenaar” so uiters vernuftig en so gewild is dat hy platinumstatus met sy nuwe album bereik het.
Met die belaglike getal van 20 000.
Sokkiemusiek word opgeblaas na iets groters, iets eksklusief, iets superieur – terwyl dit net nog een van die verskillende genres in 'n musikale potpourri is. Dis 'n genre wat staatmaak op oordrewe bemarking en ‘ n baie groot bohaai eerder as inhoud. Op 'n album sal jy nie 12 afgeronde liedjies vind nie, maar 27 GROOTSTE TREFFERS GESING DEUR ONS GROOTSTE KUNSTENAARS!!! OOIT!!!
The lady doth protest too much.
Dít is wat skort met sokkiemusiek – vir alle praktiese doeleindes is dit tans musiek ten koste van ander musiek. Dis ligte, meestal onoorspronklike vermaak, maar dis kwalik genoeg rede vir 'n argument daarteen sonder om na letterkundige of musikale snobisme te gryp (wat natuurlik 'n gesprek op sy eie is). Teen die manier hoe dit egter aan die luisteraarspubliek opgedis word as 'n kultuurpanasea – en daar boonop verwag word hulle moet soos slawe daarmee akkoord gaan – kan daar egter boekdele oor geskryf word.
Want good grief, selfs al sing hy sewe en twintig ooms aan die brand, is Robbie Ray nie een van “ons grootste kunstenaars” nie. Daarvoor het ons Van Wyk Louw.