Die Wit Draak het destyds gewonder of die Maasai nog steeds gaan spring as die kameras wegdraai. Dis die soort vraag wat meer mense gerus hulself kan afvra wanneer hulle met die media (trouens – enige media) in aanraking kom.
Daar is nooit net foto’s of videomateriaal of foongesprekke nie. Daar is altyd 'n fotograaf, 'n kameraman, 'n mikrofoonplanter. En dié wat hartstogtelik in foto’s staan en huil of in die video voor 'n skare op Loftus die volkslied met passie sing, is meer bewus van die immerteenwoordige lens as wat 'n mens besef.
Jacob Zuma gaan nie meer deur die NVG ondersoek word nie. 'n Deurslaggewende faktor tot hierdie besluit is die sogenaamde “Zuma tapes”, wat telefoongesprekke tussen Bulelani Ngcuka en Leonard McCarthey (eertydse hoof van Die Skerpioene) met inhoud in Zuma se guns bevat. Die NVG se verslag meen vaagweg:
The National Intelligence Agency (NIA) confirmed to the NPA that it indeed had legally obtained recordings of many of the same conversations which were obtained during the course of its investigation into the circumstances surrounding the production and leaking of the Browse Mole report.
Oulik, né? Opnames met verdoemende inhoud. 'n Hedendaagse Deus ex machina. Veradderlike Ncguka, dink baie nou. Veradderlike McCarthey. Veradderlike Mbeki. En almal is sommer lekker deurmekaar.
Hoekom vra niemand die veel belangriker vrae nie?
Wie het hierdie gesprekke opgeneem? Hoekom is dit opgeneem? Hoe is dit opgeneem?