Ek sit nou die aand in 'n bekende kettingrestaurant (daardie een waar almal altyd verjaar) en gesels met 'n klomp vriende oor politiek. Die een helfte reken die DA is God’s gift to mankind, die ander is taamlik onseker, selfs apaties, oor die komende verkiesing.
Ek bevind myself in laasgenoemde kamp (hoewel ek geensins apaties is nie). Ek is wit, Afrikaans en jonk – en daar is nie werklik 'n politieke party met wie ek kan indentifiseer nie. Derhalwe wil ek in elk geval nie vir 'n party stem omdat ek wit, Afrikaans of jonk is nie. Iewers daarbuite moet 'n logiese keuse wees – 'n party wat, as die regte formule en die nodige data deur 'n Core™ i7-verwerker klief, as die duidelike, onweerlegbare antwoord op Suid-Afrika se probleme vir die komende vyf jaar sal verskyn.
Waar kruip hulle weg?
Sommige mense sê dis die DA, en verwys gewoonlik dan na Helen Zille – asof dit genoeg is om enigiemand te oortuig. Maar Helen Zille is nie 'n party nie. Ander sê 'n weerhoude stem is outomaties 'n stem vir die ANC (en daarom moet ek DA stem, want hulle is die tweede grootste party). Ergo: ek moet stem in die lig van bangmaakstories oor die Swart (of Rooi) Gevaar.
WTF n00bz?
Is daar 'n party daarbuite wat nie teer op die mislukkings van ander nie? Een met 'n leier wat nie bespotlik ronddans op die verhoog omdat die kameras flits en al die ander mense dit doen nie? Is daar 'n party wat bereid is om hulself vir die volgende vyf jaar slegs met die grondwet, die beskerming van Mzansi teen 'n regressie na die natuurstaat, 'n versterking van die ekonomie en die opvoeding van almal te bemoei? Wat my gaan toelaat om my alles vir hierdie land te gee – al is ek wit?
Seker nie. Daar is nie iets soos 'n perfekte politieke party nie.
Maar sou dit nie wonderlik wees as almal ophou bitch oor die ANC en eerder 'n sterk saak vir hulself maak nie? Dan kan ons ten minste sinvol kies.
