Sorrie, Eybers.
Boer in Ballingskap het ‘n weldeurdagte interessante inskrywing gemaak waarin hy meen dat die opkomende verkiesing bloot 'n formaliteit is. Twee dinge van sy betoog het by my bly vassteek, naamlik dat Suid-Afrikaners nog steeds hopeloos te behep is met ras en op grond van nostalgie vir die ANC sal stem en dat die ANC steeds 'n twee derdes meerderheid sal kry.
Ek verskil.
Dis natuurlik waar dat daar soms nog 'n rassebeheptheid in Suid-Afrika is en wanaangepaste regstellende aksie en SEB nog lank nie verby is nie. (Net nou die dag het ek met 'n vriend gepraat vir wie daar reguit gesê is: as iemand met jou kwalifikasies 'n swart vel gehad het, het ons hom aangestel.) Dis ook waar dat die meerderheid van die land na alle waarskynlikheid ANC gaan stem. Tog dink ek Boer in Ballingskap is ietwat verkeerd wat sy analise aanbetref. Om dit te staaf, wil ek graag twee kort storietjies vertel.
Die eerste een is dié van Katrina. Katrina is die skoonmaker wat my en maklik 20 ander ouens se leefareas in die seniorkoshuis waar ek woon, daagliks moet skoonmaak. Katrina is die broodwinner. Sy is 'n kort, effens oorgewig vroutjie wat daagliks swaar emmers water moet ronddra en buk om vuilgoed op te tel sodat haar kinders kos kan kry. Sy en haar gesin woon saam met vyf ander gesinne in 'n “jaart” in 'n houthuisie. Sy had vier kinders, maar twee is dood. Een by geboorte, 'n ander aan siekte. Die oorblywende seuntjie se naam is Vernon. Die dogter, nou besig met matriek, Natasjha. Katrina se ma is verlede jaar dood. Haar man het 'n paar jaar gelede by 'n konstruksieterrein 'n ongeluk gehad en ly nou aan epilepsie. Hy is onbevoeg om te werk, maar die staat wil nie aan hom 'n onbevoegdheidstoelaag toestaan nie. Hulle woon in 'n gebied geteister deur bendegeweld en dwelms.
Daar is iets wat Katrina meer as enigiets anders in die wêreld wil hê.
‘n Huis.
Die ANC het 15 jaar gelede aan haar en haar gemeenskappie belowe om vir hulle huise te gee – en vir 15 jaar lank stem hulle al ANC, maar van huis is daar min te sin. “Nie 'n baksteen nie.” Al wat Katrina wil hê – en sy lyk geskeur tussen desperaatheid en trots elke keer wanneer sy dit vir my vertel – is om net in haar eie huis te wil woon. Maar die beloofde huise kom nie.
Katrina is moedeloos.
Die tweede storie is dié van Dumisani. Toe ek saam met Sam Shilowa om 'n etenstafel gesit het, was Dumisani ons kelner. Van Dumisani weet ek nie veel nie, behalwe dat hy 'n swart, jong man was wat baie ontsag vir Shilowa had. Miskien was sy kelnerwerk sy daaglikse brood en botter, miskien was hy besig om geld bymekaar te skraap om deur universiteit of kollege te kom. Dalk altwee. Wat ookal die geval was – hy het aan die COPE-visepresident se lippe gehang wanneer hy die kans gekry kry het. Wanneer hy die kos bedien het, het hy ekstra spesiaal vir Shilowa geglimlag. Wanneer hy die spyskaart vir ons geresiteer het, het hy gepraat asof net Shilowa geluister het. Wanneer hy ookal by die tafel was, was dit asof net hy en Shilowa in die vertrek was. Daar was 'n soort ontsag, as ek dit reg gelees het, vir die wegbreekfiguur wat voor hom gesit het. Ontsag vir 'n COPE-leier.
Wat is die punt van hierdie stories?
Katrina en haar arm gemeenskap is keelvol vir die ANC. Hulle gaan DA stem – nie omdat die DA 'n beleid het waarvan hulle hou nie of Helen Zille ook nou vernuftig riel by politieke saamtrekke nie, maar omdat “die DA besig is om pype te lê vir huise en ek dalk voor die einde van die jaar in my eie huis kan wees!” Is dit waar? Lê die DA regtig pype? Ek weet nie. Maar die punt is dit: Katrina en haar gemeenskap is regtig uiters keelvol van warm lug en leë beloftes. Kom stemdag gaan hulle (soos enige ander kieser, Boer in Ballingskap – dis tog nie net asof swart mense irrasioneel genoeg is om dit te doen nie?) met hul harte stem. Maar die stem gaan nie op nostalgie gebaseer wees nie – dit gaan 'n noodkreet na verandering wees te midde van frustrasie wat hoog loop met die regerende party.
En Dumisani?
Dumisani verteenwoordig vir my 'n nuwe geslag jong, swart mense – 'n geslag wat nie met 'n nostalgiese hart kan stem nie – al wil hulle ook. Hulle is te jonk om die struggle te onthou. Hul doelwit is om iewers in die lewe te kom; 'n behoorlike salaris te kan verdien. 'n Behoorlike opvoeding te kry. Ingelig te bly. Nie in armoede te verval soos hul ouers dalk het nie. Die ANC se huidige optrede staan hulle bes moontlik glad nie aan nie – hulle brand vir 'n alternatief. COPE is daardie alternatief. Die DA ook. Die IFP ook. Hel, sommer die VF+ ook.
Nie Katrina of Dumisani gaan stem op grond van hulle of ander se ras nie – en ek dink daar is veel meer Katrinas en Dumisanis daarbuite as wat 'n mens besef. Weliswaar dalk nie genoeg om 'n oorwinning van die ANC af weg te rokkel nie, maar tog genoeg om hulle te weerhou om 'n twee derdes meerderheid te kry. Op die ou einde van die dag is dit mense wat gaan stem. Honger mense. Koue mense. Arm mense. Mense met vrese. Maar mense. Nie Afrikadiere met primitiewe politieke nosies nie.
Ek reken die ANC gaan wen (hoewel ek dit geensins kan staaf nie), maar ek dink nie hulle gaan 66.75% van die kiesers se steun kry soos Boer in Ballingskap dit projekteer nie.
Suid-Afrika is 'n dogtertjie in 'n park voor 'n dam – en sy sien webbe onderwater roer.