Jacob Zuma = Windows 7

jacob-zuma-equals-windows-sevenMicrosoft het ongelooflik baie in gemeen met die ANC.

Vir alle praktiese doeleindes het beide 'n monopolie op die wêreld waarbinne hulle fungeer. Microsoft beheer die oorgrootte meerderheid van die wêreld se tuisrekenaars, die ANC die oorgrote meerderheid frontale lobbe in Suid-Afrika. Albei is stinkryk, nie een is tans vir minderhede 'n polities korrekte verskynsel nie en beide word soms as striemend teenoor die “kompetisie” ervaar. En dan is daar hul beloftes vir die toekoms – in beide gevalle gesentreer rondom 'n vlagskipproduk: Windows 7 vir Microsoft, Jacob Zuma vir die ANC.

In die volksmond was Windows Vista 'n ramp. Sedert dit vrygestel is, het dit grootliks negatiewe publisiteit ontvang; al het mense dit soms nooit eers gebruik nie, was die standaardreaksie daarop: “Windows Vista? O, ja – dit suig. Dit suig sommer hard. Frikkin Microsoft.” Talle besighede en IT-afdelings het volstrek geweier om op te gradeer. Die bedryfstelsel het die reputasie van 'n duur, stadiger Windows XP gekry – soveel so dat Windows XP se ondersteuningstydperk verleng is en Apple verskeie van Vista se foute in hul irriterende “I’m a Mac, I’m a PC”-advertensies ingespan het.

En nou is Windows 7 op pad.

Behalwe as jy in 'n grot woon, sal jy weet dat daar groot opgewondenheid oor Microsoft se nuutste bedryfstelsel heers. 'n Beta-weergawe is reeds vrygestel vir 'n paar miljoen mense en die reaksies hierop is tot dusver oorweldigend positief. Aanhangers wag nou opgewonde vir RC1 (release candidate one) wat tans in die pyplyn is. Reg oor die wêreld beskou almal dit as die “regte” Windows Vista – die weergawe wat gaan regdokter wat Microsoft die afgelope paar jaar lelik gaan staan en opmors het.

Dis presies hoe miljoene Suid-Afrikaners vir Jacob Zuma sien.

Vir hulle is hy die man wat alles wat die ANC verkeerd gedoen het onder die vaandel van die Mbeki-administrasie gaan regmaak. Hy gaan dinge in Suid-Afrika eenvoudig net beter, vinniger en meer effektief laat verloop. Daar gaan minder virusse en meer werk wees. Geen UAC vir rykdom, opvoeding en bemagtiging nie. Kortom: hy is die werkersklas se nuwe messias. Jacob Zuma gaan alles waaroor Suid-Afrikaners vir hul lieflingparty skaam geraak het, omswaai.

Gaan hy?

Dis heeltemal te vroeg om te sê, maar dit maak nie eintlik saak nie, want dit is die mentaliteit waarmee die meeste Suid-Afrikaners Woensdag na die stembus sal loop, en dis wat gaan veroorsaak dat die ANC vir die volgende vyf jaar aan bewind gaan wees.

Daarom het 'n paar partye hulself die afgelope paar dae lelik misgis met veldtogte gesentreer rondom die persona van Jacob Zuma. Dit maak nie saak hoe waar hul bewerings was nie, die ANC, soos Microsoft, is tans die underdog – hul aanhangers wil hê hulle moet dit hierdie keer regkry.

Veral aanhangers wat heimlik omgekrap is oor die vorige mislukkings.

This entry was posted in Politiek and tagged , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>