22 April 2009 – Ek, ontheemd

Nes Khaya Dlanga (YouTuber van formaat) het ek ook 'n negatiewe stemervaring gehad. Syne was traumaties, myne weemoedig.

Ek het by 'n pragtige klein gemeenskapsaaltjie in Idasvallei, Stellenbosch gaan stem. Anders as die Stellenbosse stadsaal, waar mense tot twee ure in 'n ry gewag het om hul kruisies te trek, het dit my nie eers 'n minuut geneem om in te kom nie. Die OVK-beamptes was vriendelik en behulpsaam. My identiteitsdokument is geskandeer, ek moes 'n vorm invul omdat ek oorspronklik vir die stadsaal geregistreer was, my linkerduim is met ink gemerk gemerk. Twee groot stembriewe is in my hand gestop.

Terwyl ek deur die stappe begelei is, het die onsekerheid wat die afgelope paar weke in my gebroei het al hoe harder deur my harsings weerklink.

Ek het steeds nie geweet vir wie om te stem nie.

Nes Khaya het ek in 'n hokkie gaan staan en vir lank met 'n penpunt oor drie partye gehuiwer. Moet ek vir die DA stem? As dit suiwer van getalle afhang, lyk hulle na die beste opposisie. Cope? Ek hou van hul fut (hul manifes ook) en het Shilowa se geselskap geniet. Die Vryheidsfront Plus? 'n Deel van my sal kwyn as ooms soos Pieter Mulder uit die politiek verdwyn. 'n Afrikaner bly ek immers tog.

Maar ek voel nie veel vir die DA nie. Ek wil nie 'n party kies wie se verkiesingsveldtog wentel om die afkraak van 'n ander een nie. Ek weet nie of ek Cope werklik al kan vertrou nie. Hulle is jonk en die skadu van 'n deurmekrys ANC wat hul gebaar het se mislukkings hang soos onweer bo hul koppe.

En die Vryheidsfront Plus?

Ek hou net soveel van koeksisters as die res van hulle, maar ek voel nie gemaklik daarmee om my stem te gee aan 'n party wat net vir Afrikaners omgee nie. Christelike Afrikaners, nogal. En daai gebiedsoutonomie in hul beleid sit nie so lekker om my lyf nie.

Dis wat deur my kop gemaal het. Te beledigend. Te jonk. Te eksklusief. Te beledigend. Te jonk. Te eksklusief – oor en oor en oor. Tot dit my meteens getref het dat ek eenvoudig nie tuis voel in een van die partye wat ek oorweeg nie.

Ek het nie 'n gedeelde haat vir die ANC nie. Ek dink nie koshuise moet gesegregeer bly nie. Ek gaan nie 'n kroonaar bars as nog 'n naamsverandering plaasvind nie. Ek het nie 'n ANC met 'n glorieryke geskiedenis van bevryding nie. Ek het nie 'n ACDP waaroor ek Sondae kan jubel nie. Daar is nie eers meer 'n NP waarvoor ek uit nostalgie kan stem nie.

Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ek myself gedwing om 'n utilitaristiese berekening uit te voer, twee kruisies te trek en my twyfel stil-stil in die stembusse te gooi. Terwyl ek die stemlokaal verlaat het, het 'n vreemde gevoel van ontheemding oor my neergedaal.

Buite was 'n DA-stalletjie kliphard besig om 'n Zille-komposisie oor motorluidsprekers te speel. Sorgeloos. Dansend. Langs hulle was 'n ANC-stalletjie met 'n handjievol nonchalante beamptes – ontuis, bedruk.

22 April 2009 was die naaste wat ek al ooit aan die ANC gevoel het.

This entry was posted in Politiek and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>