Omdat ek in die bevoorregde (soms vervloekte) posisie is om 'n werk en 'n tesis te probeer balanseer en ek sommige dae in Kaapstad werk, is ek soms laat in die aand op die pad terug Stellenbosch toe. So het dit gebeur dat ek heel gereeld laataand-RSG begin luister het. Die laataand-program op Dinsdae, aangebied deur LiMari Louw, heet “Deurnag” en het die volgende skedule:
00:00 Nuus
00:02 Werksoek
01:00 Middagvervolgverhaal (herhaling)
01:15 Insimbi (herhaling)
01:30 Inbel en musiek
02:00 Bepeinsing (herhaling)
02:05 Taaltemmer (taalvasvrae)
03:00 U eie keuse (herhaling)
04:00 Musiek
Genadiglik is ek normaalweg darem voor 01:00 by die huis (eendag as ek groot is, sal ek inbel vir “Taaltemmer”), maar dis die 00:02-gleuf – “Werksoek” – wat elke aand my aandag trek.
Soos die naam suggereer, is dit 'n segment waartydens mense kan inbel, SMS of e-pos om werk aan te bied of te soek. Die meeste inbellers soek (gewoonlik dringend) werk en dit breek my soms nogal om te hoor hoe desperaat hulle is.
Iets val 'n mens later by.
Die meeste mense wat inbel, is nie werklose mense nie.
Dis hulle ma’s!
“Hallo, my naam is Tant X van Y en…ag…ek bel namens my seun / kleinseun. Hy soek dringend werk en hy is bereid om enigiets te doen.”
Waarop 'n mens wil antwoord: “…soos om self die telefoon op te tel en te bel?”
Ek besef al te goed dat dit laag en gemeen is om te spot met mense wat nie werk het nie (ek beplan ook nie om dit te in hierdie inskrywing te doen nie, want ek dink regtig dis laakbaar). Maar wragtig – hoe op dees aarde verwag jy iemand moet vir jou werk gee as jy nie eers self die moeite wil doen om dit te soek nie?
Stuur hulle hul ma’s na die onderhoude ook?