Die filosofie van “paying it forward” in die film “Pay it forward” meen dat slegs een goeie daad kan uitkring na 'n see van goeie dade en alles derhalwe sommer baie beter op planeet Aarde sal wees. Jy ken die storie – 'n seuntjie doen iemand 'n goeie daad aan, die ontvanger van hierdie daad persoon doen om die beurt 'n goeie daad aan drie ander mense, hierdie drie mense doen dit elkeen aan drie ander mense, hulle doen dit elkeen aan drie ander ad infinitum.
Die probleem met so 'n benadering is dat dit implisiet faal selfs nog voor daar enige dade gepleeg is. Die rede? Mense voer selde slegs een handeling per dag uit.
As een persoon 'n hipotetiese 1000 dade per dag uitvoer waarvan een 'n goeie daad is, beteken dit daar is 999 oorblywende dade wat óf sleg óf neutraal is. Dit impliseer noodwendig dat 'n goeie daad in die gees van “paying it forward” outomaties 'n baie groot kans staan om verdwerg te word deur slegte dade. Vir elke glimlag aan 'n benullose bergie sal daar veel meer nors kyke aan karwagte, 'n geskree op die kinders by die huis of sluwe belastingontduiking in hierdie wêreld wees.
Wat na 'n mirakelagtige sneeubal van goeie dade lyk, is eintlik maar 'n naald in 'n hooimied van immeruitkringende weerwraak.