Afrikaners wat Algemeen Beskaafde Afrikaans as moedertaal praat (die variant wat Riaan Cruywagen saans om 19:00 besig), vind die verskeie ander variante van Afrikaans soms vreemd en beskou dit as 'n laer vorm van die taal – 'n idee wat by nabetragting nie noodwendig meriete het nie. So het ek onlangs iemand tydens die uitsending van 'n rugbywedstryd hoor mor dat die sangers wat die Afrikaanse vers van die volkslied sing, dit sleg sing. Dis mos nie Afrikaans nie, kon ek die persoon omtrent voel dink – sy taal klink nie só nie.
Dit was 'n ironiese oomblik. Ek wonder hoeveel sulke Suid-Afrikaners sien weekliks die ironie daarin raak dat swart voorsangers (iets wat maklik uit hul aksente afgelei kan word) die Afrikaanse vers van Die Stem uit volle bors sing. Want hierdie een het nie.