Jeff Jarvis reken “Advertising is failure“. Die basiese idee, een waarop ander soortgelyke skrywers deesdae (Seth Godin jumps to mind) ekstrapoleer, is dat 'n advertensie in die tradisionele sin nooit kan kompeteer met sogenaamde “word of mouth”-reklame nie en dat 'n spul mense wat opgewonde oor jou produk is slegs verkry kan word deur hulle as individue te hanteer. Hoewel ek ten dele met Jarvis saamstem, dink ek egter sy stelling moet geherformuleer word om as volg te lees:
Shitty advertising is failure.
Neem hierdie advertensie op Die Burger se webtuiste:
Hier is dit van naderby:
Ek kan raai hoekom dit op Die Burger se webtuiste pryk (die affiliate payouts is bes moontlik die hoogste per transaksie). Dat dit egter 'n taamlike power advertensie vir African Palace in hierdie konteks is, is nie te betwyfel nie.
Die selfvernietigende ligging daarvan op die webtuiste ten spyt, is dit niks minder as 'n breinlose versameling beeldpunte nie. Daar is geen vernuftige kwinkslag of bondige retoriek ter oortuiging van die wenslikheid van die produk nie. Dis in die pad (as ek na 'n koerant se webtuiste gaan, wil ek hê die nuus moet my aandag trek). Dit spoed van die adserver wat die data bedien vertraag die algehele laaityd van die webblad. Bowenal onderskat dit lesers se intelligensie deur hulle te behandel asof hulle deel van 'n breinlose massa is.
Dit misluk nie omdat dit 'n advertensie is nie – dit misluk omdat dit breindood is.
