Die waarde van die skeppingsverhaal lê nie in die godsdienstige aard daarvan nie. Dit is nie veel van 'n ware verhaal nie – iets wat, die negasie-sonder-teenargumente-redenasies van kreasioniste ten spyt, redelik maklik afgelei kan word. Gewis is dit nie 'n diëgese van die eerste oomblikke van die heelal of 'n verduideliking vir die ontstaan van die duisende tale wat ons praat nie. Dit sê nie eers veel oor God nie. (Dit kan nie. Dis fiksie.)
Die waarde van Genesis lê daarin dat dit 'n menslike toestand beskryf wat ouer as die verhaal self is. 'n Toestand wat enigiemand kan verstaan, ongeag sy of haar herkoms.
Almal het krapmerke aan die binnekant.
Of jy nou kleintyd gemolesteer of geboelie is, geskei is, aan kort mannetjie-sindroom ly, familietwis moes deurmaak, iemand aan die dood afgestaan het, 'n aaklige ervaring met koue water gehad het kort na jou tweede verjaardag of bang is vir spinnekoppe – iewers word almal se onskuld weggekerf.
Dis 'n mitologie wat altyd aanklank sal vind: die idee dat alles eens piekfyn was, totdat iets aan flarde geslaan is.
Nes Adam en Eva in die paradys.
Die waarde van Genesis lê daarin dat dit 'n storie vertel wat maar al te bekend is. 'n Storie van pyn en die daaropvolgende lewenslange hunkering na dit wat eens was.
Everybody hurts.