…is dat hy lankal nie meer 'n homogene groep is nie. Die oorlewing van Afrikaans en alles wat vir die Afrikaner spesiaal is, hang van hierdie besef af. Dit is nie kultuurfeeste of t-hemde met oranje blanje blou of enerse sekuriteitshekke wat ons sal red nie. Eers wanneer ons besef dat ons lankal nie meer dieselfde is nie – en dat dit goed is – sal ons en ons taal behoorlik verder kan groei soos CJ Langenhoven dit in die vorige eeu beskryf het:
As ons nou hier in die saal af 'n ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal 'n merk sou maak op 'n hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en 'n streep deur die merke trek van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste daar anderkant teen die solder, dan sou die streep 'n snelstygende boog beskryf, nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na 'n vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u menere waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein, in die jaar 1924.
Luister jou Kurt Darren, luister jou Fokofpolisiekar, luister jou Insek. Moet mekaar om hemelsnaam net nie dwing om dit ook te doen nie, anders gaan ons almal oor 'n paar dekades saam onder 'n maatemmer vrot. Niemand het nog ooit daarby baatgevind om in die verlede te leef nie; met ons s'n is dit veral sinloos om so te maak.
Leef en laat lewe.
(En wee bemarkers wat goedkoop fluff opdis asof die teendeel waar is.)