Die val van die Panopticon

Die onderstaande is 'n proefbrokkie uit my tesis. Kommentaar is meer as welkom.

In 1787 beskryf Jeremy Bentham, in 'n brief aan 'n vriend, die ideale struktuur wat gebou moet word ten einde 'n sekere aantal mense voortdurend onder oë te kan hou. “No matter how different, or even opposite the purpose”, skryf Bentham:

…whether it be applied to the purposes of perpetual prisons in the room of death, or prisons for confinement before trial, or penitentiary-houses, or houses of correction, or work-houses, or manufactories, or mad-houses, or hospitals, or schools […] It is obvious that, in all these instances, the more constantly the persons to be inspected are under the eyes of the persons who should inspect them, the more perfectly will the purpose X of the establishment have been attained.

(1787: Panopticon)

Sy oplossing is die Panopticon[1]: 'n tronk gebaseer op utilitaristiese beginsels (hoe meer waargenome gevangenes, hoe beter) waar tronkinwoners nooit weet of hulle waargeneem word of nie. Bewaarders doen diens buite sig van die gevangenes, wat 'n kunsmatige sin van alomteenwoordigheid skep en die gevangenes op hul plek hou. Hoewel dit fisiek onmoontlik is om elkeen onophoudelik te fynkam, “the next thing to be wished for is, that, at every instant, seeing reason to believe as much, and not being able to satisfy himself to the contrary, [the prisoners] should conceive [themselves] to be [closely watched]” (Bentham 1787: Panopticon). Dit is in hierdie bloudruk vir 'n tronk wat 'n ironiese metafoor vir die mediabedryf voor die onstaan van die internet te vinde is.

Die metafoor is tweeledig. Enersyds beeld dit Gilder se “top-down” hiërargie uit, andersyds skets dit die illusie van volkome dekking wat die media vir die publiek skep. Nes Bentham se tronkbewaarders aan die bokant van die Panopticon besluit wat gevangenes mag weet oor mekaar, hul bewaarders, die tronk en die buitewêreld, so is koerante, tydskrifte en nuusbulletins die amptelike dissemineerders van nuus wat besluit wat hul lesers en / of luisteraars van die wêreld hoef te weet. Inligting vloei van bo (die bewaarders) na onder (die arrestante) en word amper uitsluitlik vervaardig deur diegene aan die bokant, wat oor die soewereine gesag (in die media se geval: die aanspraak op die objektiwiteit as sogenaamde Fourth Estate) en middele (kapitaal, logistieke vermoëns, toerusting, personeel) beskik om die vervaardigingsproses te onderneem. Gevangenes sal nooit inligting aan die bewaarders oordra nie, maar eerder passiewe ontvangers daarvan wees, gekluister in 'n afgebakende area wat vir hulle gebou is deur die einste entiteit wat die “nuus” oor hulle leefruimte vervaardig en versprei.

Nes dit voorts onmoontlik is vir Bentham se tronkbewaarders om elke liewe hoekie van die tronk vir elke sekonde van die dag te fynkam en sodoende volledige kennis oor elke liewe spinhuisboef te bekom, so is dit onmoontlik vir enige koerant om verslaggewers op elke denkbare dorp te hê en elke denkbare storie op te teken. Eerder word die illusie van volkomenheid geskep deur aan die hand van sekere eise (soos nuuswaardigheid, verskeidenheid en die behoeftes van die teikenmark) 'n daaglikse versameling stories te versprei as “nuus”. Soos Bentham se gevangenes vanweë hul onkunde oor die bewaarders se bewegings in die illusie verkeer dat almal orals dopgehou word, so verkeer die lesers- en luisteraarspubliek onder die wanindruk dat die produk wat van 'n rolpers afgeval het op hul voorstoepmatjie 'n kanonieke versameling van die afgelope vier en twintig uur se nuuswaardige gebeurtenisse is. As iets in 'n koerant was, is dit “in die nuus”; as iets egter gebeur het en daar nie 'n verslaggewer was om dit op te teken nie, bly dit buite die bereik van die massas en die kanon.

Die metafoor kan van toepassing gemaak word op enige sektor van die mediabedryf. Platemaatskappye het bepaal na watter musiek die publiek luister, televisiestasies na watter programme gekyk word, koerante watter nuus versprei word. Die argument sou selfs gemaak kon word dat massamedia se lewensbloed – advertensies – grootliks bepaal het hoe die wêreld hul geld spandeer.

Was die mediabedryf 'n Panopticon, het die internet die mag van die bewaarders by die draai van die eeu tot rommel begin reduseer.

Soos ARPANet (die Amerikaanse weermag se voorloper van die internet) wat van meet af ontwerp is om bykans onuitwisbaar te wees, is die internet 'n gedesentraliseerde rekenaarnetwerk wat slegs “afgesit” kan word as elke liewe rekenaar op aarde afgeskakel word, elke netwerkkabel uitgetrek word, elke optiese veselaar verbrysel word, elke radiotoring omgestoot word, elke datasentrum verwoes word, elke selfoon verbrysel word etcetera. Vir alle praktiese doeleindes is dit onverwoesbaar en, belangriker nog, sonder 'n middelpunt. Anders as die Panopticon-gebaseerde media-oligargie waar 'n handjievol maatskappye die vloei van inligting beheer – in Amerika se geval slegs 29 maatskappye (Chomsky & Herman 2002: 5); in Suid-Afrika heelwat minder – is die internet (en spesifiek die wêreldwye web) 'n speelterrein waar inligting gratis is, die vrye vloei daarvan aangemoedig word en enigiemand 'n stem kan hê. “[The internet],” meen Awerbuck (2008:5) trouens, “has challenged mainstream media narratives, thereby changing the status quo. Objectified, disenfranchised, pathologised, and otherwise misunderstood groups, those who feel that their voices are underrepresented or were unheard in the past now have unlimited access to public forums.” Sodanige groepe sou voor die ontstaan van die internet sukkel om 'n voorbladartikel of hoofberig oor hulself te kry. As voorbeeld sou die geval van Mutsi en Van Rooyen geopper kon word – had Mutsi toegang tot Twitter, het die geskiedenis se gang dalk anders daaruit gesien.


[1] 'n Samevoeging van pan (alles) en opticon (waarneem).

This entry was posted in Media and tagged , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>