Ek is besig om baie ongemaklik te raak met die DA se aanslag teen die ANC. Dis nie dat ek meen niemand mag rekenskap van die land se regerende party vra nie – inteendeel. Wat my pla is die manier hoe die ANC in alles wat die DA skryf sonder uitsondering die aartsopperpoephol is. Hul nuutste poging is die Wasteful Expenditure Monitor, 'n tabel wat aantoon hoe die ANC geld spandeer wat volgens die DA onnodig is (met die daarmeegepaardgaande holruggeryde argument dat mense swaarkry – so hoe durf die ANC groot bedrae geld spandeer?) en beter gebruik kon word.
Dis vir my niks meer as 'n vorm van schadenfreude nie.
Die laaste ding wat die regerende party tans nodig het, is burgers wat soos kefferbrakkies teen hulle opgesweep word. Of jy van hulle hou of nie, hulle is in die meeste gevalle diegene wat amptelik moet regruk wat die afgelope 15 jaar verbrou is. Daar is baie beloftes gemaak; seker die absurdste ding wat enige burger nou kan doen, is om die kosbare tyd waarin hierdie beloftes vervul moet word, te vul met aantygings wat skadebeheer nodig het. Skadebeheer mors tyd.
Inligting in die Wasteful Expenditure Monitor maak dit ongelukkig vinnig duidelik dat die DA juis besig is om sulke skade aan te rig. Twee voorbeelde is ter sake. Die (tans) boonste item op die lys is “Two full colour advertisements taken out in the City Press and the Sunday Times newspapers”; die DA sanik dat die R700 000 wat dit ongeveer gekos het, te veel is. Hoe 'n politieke party wat onlangs veel meer geld geblaas het op verkiesingsplakkate en advertensies in die gedrukte media vir 'n nasionale verkiesing wat hulle nie gewen het nie hieroor kan kla, gaan my te bowe.
Die tweede voorbeeld is dié van: “The National Commissioner of Correctional Services and the Gauteng Commissioner have been renting property at a cost of R30 000 per month and R35 000 per month respectively, despite both of them having an official residence available”. Van meet af is dit vir my 'n swak argument: as dit beide die kommisarisse se eie geld is, is dit irrelevant; indien dit belastinggeld is, moet daar ten minste ook gevra word waarheen die geld gaan, in plaas daarvan om bloot te begin sanik omdat dit baie is.
As die ANC oor die volgende 5 jaar misluk, misluk almal. Dat die amptelike opposisie skynbaar hierdie wens koester, maak my bang.