Soos tale groei, ontwikkel nuwe metafore vir nuwe ervaringe. Met gereelde gebruik verander hierdie metafore later in “dooie metafore“, idiomatiese uitdrukkings wat gebruik word sonder dat die oorspronklike betekenislading van die metafoor bedoel of verstaan word.
‘n Voorbeeld hiervan in Afrikaans is die uitdrukking: “in duie stort”. Die oorsprong van die uitdrukking is te vinde in die ontwerp van 'n wynvat: die geboë planke wat deur metaalringe in plek gehou word, heet “duie” (enkelvoud: “duig”). Wanneer iets in duie stort, val dit letterlik ineen soos 'n wynvat waarvan die metaalringe plotseling verwyder is.
Die metafoor is natuurlik gemunt in 'n tyd toe vate 'n alledaagse deel van die sprekers se bestaan was. Toe was dit 'n taaluiting wat sin gemaak het binne die konteks van hul alledaagse ervarings. Namate balies egter die afgebakende terrein van wynmakers en industriële werkers geraak het en die woord “duig” in onbruik verval het by die meeste Afrikaanssprekendes, het “in duie stort” 'n dooie metafoor geraak. Vandag is dit 'n idiomatiese uitdrukking wat mense steeds gebruik om rofweg dieselfde betekenis van die oorspronklike metafoor oor te dra – hoewel niemand regtig meer weet wat 'n “duig” is nie.
Ek wil graag aanvoer dat een van die internet se grootste dooie metafore die koevert in hierdie prentjie (en ander soortgelykes) is:
Die oorspronklike nut van die koevert – die fisiese draer van 'n brief, normaalweg 'n stuk papier – het heeltemal weggeval. Tog gebruik ons die grafiese voorstelling van een as 'n metafoor vir e-pos – 'n medium wat nóg papier nóg tasbaar is. Dis letterlik 'n dooie metafoor (albeit semioties): 'n beeld wat aangewend word vir iets wat dit lankal nie meer is nie.
