Voor jy enige idees oor hierdie inskrywing begin kry, hang aan 'n tak. Dis nie 'n negatiewe een nie. (Ha! Hoor ek jou sê – hy het net 'n verskoning gesoek om “speen” te skryf! Moontlik.)
Dis met 'n vreemde gevoel van trots (en 'n daarmee gepaardgaande titseltjie ongeloof) wat ek die afgelope paar dae die bekendstelling van Nuus24 probeer verwerk het. My gedagtes hierrondom was rofweg die volgende:
“Dit lyk mooi…”
“Daar is nie abrubte tikfoute nie…”
“Ek word nie oorlaai met spam nie…”
“…Dis Afrikaans?!”
Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se webtuistes het my die afgelope paar jaar gedwing om by verstek negatief te wees oor aanlynnuus in Afrikaans. Die Burger se webtuiste is 'n ramp, die res hardloop al vir heeltemal te lank op 'n argaïese sisteem wat, om dit sagkens te stel, 'n vet toffie vir metadata, folksonomie en crowdsourcing druk. Ek lees nuus by verstek in Engels (veral graag by News24 en M&G), omdat ek van meet af gekondisioneer is dat Afrikaanse nuus op die internet my tyd, bandwydte en geduld (toets dit vir jouself – laai een van hulle sonder en dan met 'n adblocker en hou 'n stophorlosie byderhand) gaan mors.
En nou is daar iets professioneel in Afrikaans – nogal in 'n tyd waar baie koerante besig is om spykers vir hulle eie doodskiste te koop (of ten minste nagmerries daaroor te kry). Iets wat reg laat geskied aan die goeie Afrikaanse joernaliste waaroor Suid-Afrika beskik se vernuf. En dit voel net nie reg nie.
Raar, maar waar – ek gaan myself moet dwing, moet herkondisioneer, om weer nuus in Afrikaans te lees. Ek wil met alle mag weer aan die speen van die Afrikaanse pers suig.
Don’t screw this one up, boys.