En nou’s dit ses jaar later

Ek sit in die serkaartjiery in die CJ Langenhoven-sentrum met my skootrekenaar en luister na Fokofpolisiekar. (Wel, nie terwyl jy dit lees nie, maar ek het terwyl ek dit skryf. ’Belowe.) Dis donker; die ligte is pas afgeskakel. Almal is feestelik, almal fuif.
Almal is so jonk.
Vir die eerste keer in ses jaar wag ek in die ongeorganiseerde, slierende menseketting op die koms van die heilige serenadekaartjies en drink Hunter Kennedy se wysheid deur my oorfone. Ek probeer uitpluis wat op dese aardbodem ek vir die laaste keer ooit in Die Matie (apogee van studentejoernalistiek en briewe oor kreasionisme) moet skryf in ’n rubriek wat ek vir drie jaar al onderhou.
Ek dink terug aan my voorgraadse dae – toe ’n mens skynbaar nog ’n loopbaan uit filosofieklasse kon skep en die belangrikste ding op aarde was om soveel keer moontlik saam met jou koshuis te gaan kaalnael (en verby Huis ten Bosch te stap. ’n Man raak moeg.). Ek onthou die dae toe McDonalds nog ‘n toemaaktyd gehad het en ’n kaasburger R5 gekos het. Ek onthou Springbok sonder Upper Level, Studentekerk sonder Kruiskerk, Happy Tree Friends op Fashion TV in Tollies. Meisies wat ek gescore het. Dié wat my gebat het. Vriende wat nou boeke doen en brûe bou. My eerste gradeplegtigheid. My tweede een. Die tesis wat ek gister probeer skryf het in ’n poging om ’n derde een te mag bywoon.
Ek onthou ’n Stellenbosch wat vir oulaas nog behoorlik kon doop, voor Helshoogte se sesde vloer op ’n eerbare wyse hul stilswye oor inlywingspraktyke in 2004 gebreek het. Hoe ek vir Metanoia geser het terwyl dit nog net ’n klomp bakstene tussen stellasies was. Casper de Vries in die HB Thom. Wyntoere. DC. Kagiso Khulani en Fedics. Seruitdunne. Middagete in Victoriastraat. Counterstrike. Fish Bowls. Edna van Harte. Pieter Schalk Bothma. Chris Brink. Breyten Breytenbach. Willem Fourie. Tweedejaarshemde en eerstejaarsdanse.
Daar’s ’n bottel Beyerskloof Pinotage onder my arm. Dis lekker. Ek drink in die Neelsie.
Wat het ek in ses jaar op kampus geleer?
Ek het geleer dat dit nie belangrik is om JOOL te wen nie. Dat die Taaldebat die geveg van ‘n handjievol ou ooms en tantes is wat baie van Katalanië, maar weinig van die internet af weet. Dat Shofar vir hul lidmate jok oor die ouderdom van die aarde. Dat rugby skynbaar belangriker as akademie, die eertydse heilige koei in die kunsdepartement of jou siel is. Dat daar ’n ossewa én hysbakke in die Neelsie is. Dat dit onsettend uitputtend is om vir die SR notule te hou. Dat polisiebrutaliteit in Bohemia nie so erg soos die Chinese slagting by Tiananmen Square was nie.
Ek het geleer dat ek jonk is, nie veel van die lewe af weet nie en daar nie iets soos ’n vinnige antwoord is nie. (Nie een wat werk nie, in elk geval.) Ek het geleer dat liefde seermaak en jagsheid moor, dominees cooler is as wat ek gedink het hulle kan wees en huisvergaderings nie die moeite werd is as dit nie tot ten minste drie-uur die oggend aanhou nie.
Ek het geleer wat emfatiese neweskikkings, ontologieë en sosiale kontrakteorie is. Dat dit oukei is om drie paragrawe namekaar met “Ek het” te begin en skootrekenaars se batterye nooit langer as vier ure hou nie. Ek het geleer dat ek nooit al my herinneringe in 700 woorde sal kan omsit nie. Dat dit lekker is om Venstersklankbane te maak en blommetjies te vou en die studenterade voor Soen in die Laan netsoveel as die studenterade post-Soen in die Laan kon uitrig. Bowenal het ek geleer dat ek onmenslik bevoorreg is om genoeg geld te kan hê om deur ’n resessie te swot en einde ten laaste ’n tesis te skryf wat die meeste Suid-Afrikaners nooit sal lees nie.
Hoe sluit ’n mens ’n rubriek af wat jy eertyds met die woord “seks” begin het en waaroor jy vir drie jaar geswoeg het?
Jy bedank almal wat gelees het. Jy weet nie wie nie, maar jy bedank hulle. Dankie.
Jy vra om verskoning vir die mense wat jy omgekrap het. Jammer Shofar. Jammer muur by Admin-A. Jammer SR. Jammer besope Eendragter.
Jy groet.
Totsiens borrel, ek gaan jou mis.
Almal lyk so jonk…


"Almal lyk so jonk" – Mhmm, wat moet ek nou sê
Reply
ek haat dit: om te erken dat ek nostalgies kan raak; dat my lewensperspektief meer 'universeel' is as wat ek graag sal wil hê; maar veral dat ek jou blog lees terwyl ek lunch.
oomblik van waarheid.
Reply
Dankie vir 'n uitstekende berig – dit eggo mooi my eie herinneringe van die afgelope ses jaar hier. Dit is goed om te kan terug dink met nostalgie, goed te kan mis maar ook bly te wees dat dit verby is.
En ek vermoed dat die Eendragter (besope al dan nie) nie te veel omgee nie.
Reply
Jy moet maar aanbly en navorsing doen broer. ‘n Mens kan kampus lewe lank laat aanhou.
Ek is verbaas dat jy so beleefd en selfs jammer voel vir die Shofars. Ek wens ek was so gewees.
Reply
Ek dink ook terug aan: 'n Groot leë grasperk tussen Nerina en Heemstede. De Vos-toebroodjies. Radio Bos. Trivia Hubs. Kriekplaë. 'n Eendrag sonder brandmure.
Ek wonder hoeveel mense het besef die opskrif is ook 'n FPK-liriek.
Reply
og, nou mis ek de vos se combo 18…
Reply
[...] erkenning aan Johan Swarts Lewer Kommentaar No Comments Yet sover Lewer kommentaar RSS skakeling vir menings op die [...]
Jy het my nou ver terug laat verlang! Vernuftige woorde wat my terstond uit my bloghibernasie van bykans 6 maande geruk het!
Reply
Humansdorp is ‘n oulike plek. Vra die regisseur of hy ‘n ex chokkakop kaptein in sy musiek video soek. Ek het baaaaaaaie stories en nog meer ondervinding. Ek sal die geld skenk aan die Shofars. Okay ek sal nie regtig dit doen nie maar ek sal dit wel aan die SPCA skenk. Weet julle waar al die drink plekke is?
Reply
Jy's beslis 'n skatryk mens. Mag die rykdom steeds toeneem
Reply
man, ik krijg een brok in mijn keel…
mooi gezegd
Reply
Aah, die nostalgie. Ek call jou nostalgie, en raise jou:
Toe Richards nog oop was, toe Sonop Hombre was, toe Finlays nog oop was, toe Garage in die Neelsie drank verkoop het, toe mense wat bekfluitjie skree gevang en geteer en veer is, toe jy 5 MacDonalds hamburgers vir R10 kon koop, toe daar nog ‘n kostannie was wat kos gemaak het in die koshuis wat vir die universiteit gewerk het, toe die SR ‘n useless groep wenners van ‘n gewildheidskompetisie was en niks eintlik beteken het nie (o wag, dis nog steeds so), counterstrike (speel mense dit wragtag nog steeds?), IRC, tiekiebokse wat deur eerstejaars op telefoondiens beantwoord word, Bertus! se haarstyle, Netscape die grootste browser, FIRGA word die grootste versameling Pentium PCs in die wêreld, SUNSAT word uit eindelik lanseer, die begin van Java, drool oor daai hot waitress Nina Swart by Dada’s.
Pienk Zuit´s last blog ..(Ver)koue
Reply
Baie, baie goed. Dink nie jy (of jou lesers) kon vra vir ‘n beter swanesang nie.
Jacques de Viljee´s last blog ..Skuldig of onskuldig, poppe gaan dans
Reply
Faaaarrrkk… pik ek nou ‘n traan! Dis werklik so mooi geskryf.
Girl van die Suburbs´s last blog ..Trap daai fiets
Reply