Donderdagaand, terwyl ek na 'n laerskoolkooropvoering sit en kyk, merk ek 'n seuntjie op wat skuins voor my met 'n smartphone sit en speel. Hy het foto’s geneem, met 'n stilus op die foto’s gekrap en met facial recogniction 'n digitale snor op sy ma geplaas:
Wanneer hy eendag groot is en tot die land se ekonomie kan bydra, gaan hierdie outjie nie koerante of tydskrifte koop nie. Hy word grootgemaak met tegnologieë wat verseker dat hy die wêreld anders as sy ma sal beskou, anders daarmee sal omgaan, anders sal verstaan. Hy sal op 'n ander manier na inligting soek as wat sy ma dit doen.
Hy gaan nie sanik oor hoe net sekere mense die internet kan bekostig nie. Hy gaan nie met sy hande in sy hare wonder waar sy volgende braaivleisvuur vandaan gaan kom nie. Hy gaan verseker nie slapelose nagte hê oor afgedankte joernaliste nie.
Die seuntjie met die smartphone skuins voor my tydens 'n laerskoolkooropvoering is die grootste gevaar wat enige tradisionele mediamaatskappy nog ooit in die gesig gestaar het. Net omdat hy met 'n smartphone kan speel.
Net omdat hy kan.
