Ek wonder wat sou Diederichs en Rabie gedink het as hulle hierdie foto van Nasionalisme as Lewensbeskouing en sy Verhouding tot Internasionalisme en Die Evolusie van Nasionalisme so langs mekaar voor 'n MA-student se skootrekenaar in 2009 kon sien lê:
Sou die feit dat die Afrikanernasionalisme waarvoor Diederichs homself beywer het vandag grootliks dood is, hom hartseer maak?
Was Rabie se woorde profeties?
Oorlog, dit wil sê, nasionalisme, het selfmoord geword: alle oorlogvoerendes, die oorwinnars inkluis, is vandag die verloorders. Vandag moet nie veldslaë (sic) nie, maar die vrede gewen word. Anders…
Aag watwou, lag die gewone man, die son skyn nog en ek trek goeie salaris in die wapenfabriek; oor die radio sing 'n strelende vrouestem: “Che sera, sera”: en op die volksverhoë dreun volksmanne hul volksliturgieë onveranderd voort asof ontsettende paddastoele van die dood nie reeds hier en daar oor die hemel begin hang nie. [...] Moet die beskawing, moet die mens dalk onherroeplik sterf omdat hy ook, soos die groot souriërs, nie kon aanpas by sy veranderende wêreld nie?
Wat is vandag Suid-Afrika se wapenfabriek? Wie staan op die verhoë?
