Ek vind nogal aanklank by Paul Kruger se mening oor staat en kerk. In sy verkiesingsmanifes van 1883 skryf hy:
Indien ek dus verkies mag word, verwag dan nie van my dat ek my met kerklike sake moet bemoei nie, want my oortuiging is dat dit die staat nie toekom om hom met die inwendige aangeleenthede van kerkgenootskappe in te laat nie. Die politieke heerser wat ook in die Kerk van Christus wil gebied, is besiel met die gees van die antichris…
(Uit President Kruger aan die Woord, 1952: 24)
Dis ingekleur met die godsdienstaal van sy tyd, maar die basiese idee is daar: kerk en staat hoort nie in dieselfde bed nie. Die klem hier is op die staat wat nie by die kerk hoort nie; of hy ook gereken het die kerk mag homself nie met die staat se doen en late bemoei nie, weet ek nie. Kruger was vas oortuig dat sy verkiesing as president God se wil was; om te lei was vir hom om sy Godgegewe roeping uit te leef.
As ek egter 'n negentiende eeuse boer met 'n baard was, sou ek vir hom gestem het.