Heidegger het eenmaal die opmerking gemaak dat 'n mens eers werklik die essensie van iets ontdek wanneer dit breek. Hy het die metafoor van 'n hamer gebruik – is dit heel, gebruik jy dit sonder om werklik oor die gereedskap na te dink. Breek dit egter, besef jy skielik in jou frustrasie wat die ware natuur van die hef in jou hand is. Dit moes 'n spyker inslaan.
In Afrikaans sê ons: spyt kom altyd te laat.
Die verskil tussen diegene wat die Taalstryd vir Afrikaans by Stellenbosch stry en dié wat apaties daaroor is, dink ek, is dat laasgenoemde se hamers nog nie gebreek het nie. Eersgenoemdes s’n het natuurlik ook nog nie die gees gegee nie – hulle het net 'n goed ontwikkelde verbeelding waarin hulle die wêreld sonder 'n spreekwoordelike byteltjie verbeel.
And it scares the shit out of them.
Al het hulle blykbaar nog nie ontdek dat hulle reeds ‘n nuwe hamer bygekry het nie, is die blote feit dat die stryders omgee iets wat hoog op die prys gestel moet word. Daarvoor het ek respek.
Soms wonder ek egter hoe produktief dit is om sponse om die ou hamer te pak.