Sintaksisversie vir die week [Die Groep]
Jy moes nou die dag wéér daardie onbesonne advertensie op RSG vir die mobiele intekendiens aanhoor, né? Daardie een waar jy kan klets! en Bybelversies aflaai! teen R[(die prys van jou siel) * (die prys van jou huislening)^(die prys van jou mees onlangse bydrae in die kollektebordjie)].
Die korporatiewe plastiekspiritualiteit het jou kop onwillekeurig agter jou voertuig se stuurwiel laat skud, né?
Ja?
Wel, wees nie bevrees nie! Want kyk: ek bring aan jou ‘n weeklikse sintaksisbrokkie! Jy kan daarmee klets! En morfeme uit gelede woorde in Bybelversies onttrek! En dis alles gratis! Wat ‘n wonderbaarlike Sintagmafees! Groepe met uitroeptekens!
Taalkunde bestudeer dikwels een van drie areas: Fonologie (klank), Grammatika (struktuur) en Semantiek (betekenis). Sintaksis val onder Grammatika. Die eenheid van ondersoek in die Sintaksis is die groep. Volgens Ponelis (1968:5) kan die groep omskryf word as ‘n eenheid van woorde waarvoor daar bepaalde volgordereëls geld. Afrikaanse sintaksis stipuleer byvoorbeeld dat die groep:
die vinnige mot
nie soos volg geskryf kan word nie:
die mot vinnige
Die groep moet nie met die sin verwar word nie. Waar die groep ‘n sintaktiese eenheid is wat primêr deur woordvolgorde bepaal word, is die sin ‘n eenheid “wat deur intonasie as ‘n voltooide geheel gekenmerk” en geïsoleerd gebruik kan word (Ponelis 1968: 5).
Uit Ponelis, F. 1968 Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis (Vierde druk). Pretoria: J.L van Schaick Bpk.
Sien? Jy voel al reeds beter.


Mmm.
Is dit moontlik dat die groep ook 'n sin kan wees?
Reply
Johan Swarts Reply:
November 24th, 2009 at 1:28 pm
beslis.
Johan Swarts´s last blog ..Sintaksisversie vir die week [Die Groep]
Reply
heerlijk johan
aandacht voor taalkunde is altijd goed
ben je bekend met de benadering van taal volgens de constructiegrammatica?
Reply
Sien, noudat Emil sy portrette en servette oppak, gaan ek maar hier moet kom dink.
demoerin´s last blog ..WEW….45/52
Reply