Ek is partykeer skepties oor tegnologie se vermoë om die wêreld 'n beter plek te maak – nie soseer omdat iets by die tegnologie ontbreek nie, maar omdat mense altyd mense sal wees.
Onlangs kry ek 'n klompie Google Wave invites om uit te deel. My eerste reaksie?
Nou is ek belangrik! Nou het ek mag! Nou moet almal my op hul knieë smeek om Google Wave-vergifnis! MY KONINGKRYK KOM! MY INVITES REGEN SOOS MANNA! NRRAARGRNGNN! [mondhoekskuim]
Kleinlik, eh?
Kleinlik, maar nie verbasend nie.
Toe Google Wave beta-uitnodigings 'n relatiewe skaars kommoditeit in internetkringe was, het mense letterlik daarvoor gesmeek. Hele webtuistes is op die been gebring om die goed uit te vis. Twitter het (vergewe my die Huisgenootisme) daaroor gegons, bloggers het klein tegnologiese dode gesterf en groot spelers soos Mashable en TechCrunch het elke beskikbare brokkie inligting oor die aangeleentheid ontleed tot in die fynste besonderhede. Dit was soos 'n swak georganiseerde verkiesing sonder kandidate of 'n kiesproses.
Omdat uitnodigings 'n skaars hulpbron was, het kortstondige magverhoudinkies daaruit ontstaan: iemand kry uitnodiging, almal soek uitnodiging, uitdeler raak demi-god. (Tot hy of sy uitdeel, in elk geval. Dan’s dit verby.)
Toe ek dus uitnodigings gekry het om uit te deel, was my eerste instink nie om die wêreld 'n beter plek te maak nie. Dit was, vir 'n vlietende oomblik, om ook 'n tegnokratiese demi-god te raak.
Die gevoel het gelukkig nie lank gehou nie. Ek het dit weggevee en sporadies uitnodigings begin uitdeel aan enigiemand wat wou hê. Tog, kortstondig of nie, het die magsgevoel my van vooraf daarvan bewus gemaak dat ek soms niks meer as 'n kleinlike, selfsugtige mens is nie. My eerste instink was nie om die wêreld 'n beter plek te maak nie – dit was om my ego gestreel te kry.
Enige tegnologie wat die wêreld 'n beter plek wil maak, maar nie met hierdie soort impulse rekening hou nie, sal waarskynlik misluk.