Daar is 'n paradoks versteek in die reklame van selfhelpboeke soos die bekende The 7 Habits of Highly Effective People.
Sodanige boeke het dikwels die uitgangspunt dat menslike gedrag beheer of in 'n rigting gestuur kan word deur 'n sekere hoeveelheid “geheime” beginsels op mense toe te pas. Die inhoud van hierdie beginsels tersyde, volg dit dat die mees effektiewe gedragsveranderinge sal plaasvind wanneer die leser die beginsels ken en die persoon wie se gedrag moet verander salig onbewus daarvan is.
Dis tog vanselfsprekend – as ek weet dat iemand se skielike glimlag en belangstelling in my lewe 'n sielkundige maneuvrering is om my gedrag te verander of my sover kry om iets te doen, raak die kans dat dit sal slaag baie skraal. Slegs wanneer ek dink die skielike glimlag is werklik 'n glimlag – wanneer ek nie die gevoel kry dat die toegeneentheid sinteties en manipulerend is nie – gaan dit op my werk.
Hoe meer mense egter die betrokke boek gelees het, hoe groter word die kans dat die tegnieke daarin nie sal werk nie – iets wat ietwat van 'n probleem raak wanneer daar reeds meer as, sê, 15 miljoen kopieë daarvan verkoop is. Om 'n verkoopsyfer op die voorblad van 'n selfhelpboek te plaas, is dus, op 'n vreemde manier, om te impliseer dat die blote aankoop van die boek dit minder effektief maak.