Baie mense wonder, tereg, hoe transformasie “gemeet” moet word. Hoe weet ons regstellende aksie “werk”? Wanneer sal ons amptelik kan sê dat die maatreëls wat ingestel is om die ongelykhede van die verlede uit te wis, suksesvol was?
Ek wil myself verstout en sê dat die antwoord eenvoudiger is as wat baie mense dink. Dit behels nie eers groot woorde nie.
Die antwoord is Kurt Darren en die Huisgenoot.
Huisgenoot is vandag steeds die tydskrif in Suid-Afrika met die hoogste sirkulasiesyfer in die land. Tog is die teikenmark 'n minderheidsgroep. So ook is die geval met Kurt Darren: in 2009 was hy die vermaaklikheidskunstenaar wat die meeste CD’s in Suid-Afrika verkoop het. (Trouens, die top vyf verkopers was Afrikaanse sangers.)
Tydskrifte en CD’s is luukshede. As 'n bevolkingsgroep tydskrifte en CD’s kan bekostig, is hulle ekonomies nie te sleg af nie. As hulle boonop nog voorheen bevoordeeld was en steeds jaar na jaar verantwoordelik is vir die land se topverkopers, dan is Suid-Afrika nog lank nie ekonomies getransformeer nie.
Die dag wat Huisgenoot nie bo-aan die land se top-10 tydskrifte is nie en Kurt Darren en kie onbenullige sangers met middelmidate verkoopsyfers is, sal die dag wees wat Suid-Afrika volledig getransformeer is.