Interkaap en die straathoekmegafoon

Verlede week, tydens 'n busrit na Mosselbaai (onderweg na Die Gevreesde Heuwel Buite Mosselbaai), het ek 'n ietwat ongewone klomp ervarings gehad.

Nadat die meeste voorstedelike pendelaars opgelaai is en die bus (Interkaap) op die N2 geklim het, is 'n DVD oor die voertuig se televisiestel gespeel. Dit het alle insittendes verwelkom en 'n paar nuttige feite oor die reis verskaf (toilet hier, uitgang daar, versnaperinge hier te koop). Hierna het dit egter iets gespeel wat taamlik uit plek gevoel het: 'n voorgeleesde gebed.

Die gebed was 'n danksegging, 'n beleidenis dat die Christelike God die enigste ware God is en 'n gebedsversoek dat die busrit veilig sal verloop. Dit het gepaard gegaan met beeldmateriaal van die natuur en strelende musiek.

Kort hierna is 'n DVD-uittreksel van 'n Angus Buchan-saamtrek vertoon, waarin Buchan…wel, gepreek het. En toe, net toe ek dink dit kan nie enigsins meer godsdienstig raak nie, speel hulle The Climb, 'n vollengte film met 'n godsdienstige tema wat kykers probeer kersten. (Die plot, kortom, verloop as volg: twee klimmers klim 'n berg. Die een sterf terwyl hy die ander een van 'n sneeustorting probeer red. Die ander een – 'n woeste, roekelose karakter met 'n geplaagde gemoed – kom tot inkeer en gee sy hart vir die Here.)

Al drie – die gebedinsetsel, die Buchan-uittreksel en die godsdienstige film – is kliphard gespeel sonder enige keuse om dit te vermy. Dit was soos 'n klein kruistog wat 'n baie spesifieke soort Christenskap (een waarin ek vermoed gays hel toe gaan en Afrikaanssprekendes woorde soos “perish”, “salvation” en “Lord” gebruik) aan pendelaars opgedwing het.

Vir amper ses ure het ek twee strydige gedagtes in my kop gehad. Die eerste een was eenvoudig:

WTF!?

Die tweede een was:

Dis 'n vry land, dis 'n kapitalistiese bestel en solank hulle nie kinderpornografie vertoon nie, kan Interkaap speel net wat hulle wil oor hul voertuie se televisiestelle.

My eerste reaksie het meestal die oorhand gekry. Wat my egter die meeste gepla het van die hele oefening, was die futiliteit daarvan.

Interkaap se visie sluit die volgende in:

To spread the message of hope, repentance and restoration across the land and beyond, to give a perishing people in despair the good news of Jesus Christ and salvation through Him.

Die probleem met bogenoemde visie is dat dit 'n evangelisasiemodus (is daar so 'n woord?) voorstaan wat vir baie mense niks minder as irriterend is nie. Iemand wat nie reeds van die betrokke boodskap oortuig is nie, gaan dit waarskynlik so irriterend vind dat hulle dieselfde soort sentiment as ek daaroor sal koester. Iemand wat in akkoord is met die boodskap, het nie werklik nodig om dit weer te hoor nie.

Om reeds oortuigdes te oortuig en nie-oortuigdes te irriteer, is nie 'n baie effektiewe evangelisasiestrategie nie. Hulle kon netsowel hul boodskap met 'n megafoon op 'n straathoek gestaan en gil het.

Interkaap het my heeltemal verloor as 'n kliënt – en dis nie eers omdat ek dou voor dag op was en met al die heilige geraas nie eers behoorlik kon slaap op 'n bus wat sigself as 'n Sleepliner bemark nie.

Die hele busrit was 45 minute agter skedule.

Skynbaar was ek nie die enigste persoon met hierdie ervaring nie. 'n Kwart van alle Interkaap-passasiers kla glo oor die busmaatskappy se “goddelike” vermaak.

This entry was posted in Godsdiens and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>