Iets wat my van Apple fassineer, is hul geheimhouding.
Die maatskappy is berug vir die gerugte wat rondom hul opkomende produkte ontstaan. Daar is hele webtuistes hieraan toegewy, wat dikwels uit niks meer as ongegronde spekulasie bestaan nie. Mac-aanhangers kry klein torgasmes (‘n vernuftige portmanteau vir tegnologiese orgasmes) by die aanhoor van elke nuutste gerug oor die nuutste moontlikheid van die nuutste potensiële prototipe wat Apple dalk (net miskien) in gedagte het. (“Dit gaan 'n tablet wees, maar met 17 skerms! Nee, wag – dit gaan 2 skerms en drie knoppies hê! NEE! WAG! DIT GAAN KLEINER WEES! MET EEN SKERM! EN DERTIG PIENK KOLLETJIES! AAAAH! GOEIE ONGODDELIKE HEL! PIENK KOLLETJIES!”)
So iets is deesdae buitengewoon.
Die internet (en veral Google) het 'n kultuur van “gratis” teweeggebring: as iets nie kosteloos beskikbaar is nie, word dit dikwels eenvoudig oorgeslaan. Indien 'n koerant byvoorbeeld 'n subskripsiefooi vir die besigtiging van sy inhoud vra, begin mense bloot die kompetisie se webtuiste besoek. Musiek, films en televisiereekse is, die besware van mediakonglomerate ten spyt, vrylik beskikbaar indien 'n mens weet waar om daarna te soek. (In sommige gevalle is dit nie eers meer onwettig nie. Dink hulu.) Dieselfde geld vir volteks boeke, bladmusiek, kitaartabs en dies meer.
Inligting op die internet wil vrylik beskikbaar wees.
Waar die res van die wêreld inligting egter vry laat, hok Apple dit in. Tot Microsoft, wat deur baie as Apple se direkte kompetisie beskou word, het die gratis-kultuur omhels deur die hele ontwikkeling van Windows 7 aanlyn te dokumenteer. Dit laat Apple se geheimhouding meer soos 'n flou grap as 'n allure van misterie lyk.
Die hele proses werk net nie meer nie. Wat uit die geheimhouding ontstaan en bedoel is om 'n stam Apple-aanhangers saam te snoer (soos Godin sal wil hê) en ekslusiwiteit te kweek, is in wese nie veel meer as 'n klomp spekulasie gebaseer op 'n weergalmende niks nie. En niks, op hierdie oomblik van die geveg, is nie veel werd nie.
Hoe enigiemand met veel meer entoesiasme as 'n nonchalante “meh” op hierdie gerugte kan reageer en in dieselfde asem 'n bohaai opskop oor ander instansies wat nie hul inligting gratis wil weggee nie, is absoluut fassinerend.
![apple-tablet-concept[1]](http://gormendizer.co.za/wp-content/uploads/2010/01/apple-tablet-concept1.jpg)