In reaksie op hierdie rubriek wou party lesers weet wat 'n militante ateïs is. Hoe, het hulle gewonder, kan 'n mens die adjektief “militant” vooraan die naamwoord “ateïs” prop?
Wys my een ateïs wat karbomme bou, vliegtuie in geboue vasvlieg en aborsiedokters koelbloedig doodskiet, vra hulle (tereg). Dis nie die ateïste wat militant is nie, dis die godsdienstiges!
Vanselfsprekend is daar weinig ateïste wat bomme vir hul geloofsoortuigings plant. Dis nie 'n sinvolle argument nie – ateïste het nie geloofsoortuigings nie.
Enige matig intelligente persoon behoort tog te begryp dat die attribuut “militant” vooraan “ateïs” nie letterlik op 'n soldaat dui nie, nes die naamwoordstuk “militante optrede” wat aan 'n HK-lid by 'n universiteitskoshuis se aksies toegedig word nie letterlik dui op 'n student wat met 'n handgrenaat onder sy kopkussing slaap nie
Dis bloot 'n metafoor.
Wanneer die term “militante ateïs” gebruik word, verwys dit nie na iemand wat lood in ander mense pomp nie, maar na 'n persoon wat as ‘t ware sy of haar oortuigings op iemand afdwing. Dit verwys na iemand wat nie slegs 'n ateïs is nie, maar hierby ook militant is in die oordra van hierdie ateïsme.
Aldus: iemand krygshaftig. Strydlustig. Manhaftig. Onverdraagsaam. Bruusk.
Trouens, om daarop aan te dring dat daar slegs een betekenis vir die begrip kan wees, toon op sigself reeds militante gedrag.
Dis darem nou nie so moeilik om te begryp nie.
Is dit?