iPad = mediocre. Toekoms = blink

As jy my op Twitter volg, sou jy oplet dat ek nie te positief oor Apple se nuwe iPad is nie. Trouens, ek dink nie dis veel meer as ’n oorbodige speelding nie.

Dit sal onregverdig wees om die iPad te beoordeel op grond van al die ophef wat daaroor gemaak is. Sommige mense se verbeeldings het so op hol gegaan met Apple se nuwe produk dat hulle teleurgesteld kan wees bloot omdat die iPad nie brood kan rooster en skoenveters knoop nie. Vir ’n redelike analise is dit egter nodig om nie opgesweep te raak in die beunhaserige beulblasery van almal wat hul breine op die lawaaiwa geoffer het nie.

Derhalwe: wat is die iPad?

Die antwoord is eenvoudig: dis ‘n vermaaklikheidstoestel. Dit kan gebruik word om webblaaie te lees, e-pos na te gaan, foto’s en video’s te kyk en musiek te luister. Hierbenewens kan dit (in teorie) vir enigiets onder die son gebruik word, aangesien dit bykans enige iPhone app kan hardloop.

In hierdie lig gesien, is dit ook ‘n uiters veelsydige toestel.

In hierdie lig gesien, is dit ook nes elke liewe ander rekenaar op die planeet.

Alle take (met die uitsondering van HD video playback) wat die iPad kan kafdraf, kan net so goed met ander toestelle verrig word. E-pos? Check. Web browsing? Check. Foto’s? Musiek? Video? Check. Selfs die mees basiese selfone kan vir jare lank al elkeen van hierdie take verrig. Om al hierdie dinge op ‘n rekenaar te kan doen, is amper al vir twee dekades nie meer rewolusionêr nie.

Resensente het die afgelope paar dae gegons oor hoe vinnig en seepglad die toestel se gebruikerservaring is. Waarop ‘n mens wil vra: so? Om HTML, PHP en Javascript te verwerk, is nie take wat monumentale verwerkingskrag vereis nie. So ook nie die kyk en manipulasie van foto’s nie. Die toestel kan boonop nie multitask nie, so geen gebruiker sal ooit werklik kan agterkom of dit nog steeds so seepglad is terwyl hulle HD-beeldmateriaal kyk nie.

Die iPad gaan vanselfsprekend vinnig wees – dit doen by verstek niks CPU-intensief nie.

Al wat werklik oorbly ter verdediging van Apple se uitspraak dat die iPad ‘n “magical and revolutionary device” is, is die feit dat die hele toestel uit niks meer as ‘n enkele raakskerm bestaan nie. Toegegee – dis ‘n vernuftige konsep. Die probleem met laasgenoemde konsep is dat dit reeds vir drie jaar in die vorm van Apple se eie iPhone bestaan (‘n toestel wat, kritiek tersyde, al die lof verdien wat dit al gekry het). Hierdie tegnologie is niks nuut nie – trouens, dis reeds besig om ‘n standaard vir talle ander vervaardigers se duurder selfone te word. Selfs Windows 7 is reeds gebou om raakskerms by verstek te kan akkomodeer.

Dit laat ons met…dromrol…’n gemiddelde produk. In terme van funksionaliteit en tegnologiese vooruitgang is die iPad bloot ‘n geherkou van vorige idees. Dis nie ‘n slegte produk nie – trouens, om media met ‘n tablet te verbruik, is ‘n oulike idee. Dis egter nie “magical and revolutionary” nie.

Die tegnologie agter hierdie gadget is egter iets om dop te hou. Die iPad, middelmatig soos wat dit is, is een van vele soortgelyke toestelle wat oor die volgende paar jaar vervaardig sal word. Oor ‘n paar masjiengenerasies gaan daar waarskynlik tablets wees wat dunner, kragtiger, veelsydiger en goedkoper as die iPad sal wees – toestelle waaroor ‘n mens opgewonde sal kan raak. Wanneer daardie generasies (en die tegnologiese en sosiale veranderinge wat dit waarskynlik teweeg sal bring) se tyd aaanbreek, sal mense die iPad onthou as die oupagrootjie van iets veel beter as hyself.

Soos met baie dinge in die lewe, is dit belangrik om jou denke oor die iPad te kan kompartementaliseer. Dat dit ‘n saai toestel is wat nie veel meer bestaansreg as enige ander rekenaar het nie, is gewis. Dat dit egter die begin van ‘n baie blink toekoms vir ‘n sekere segment van die rekenaarbedryf is, kan nie geïgnoreer word nie. Myns insiens is dit belangrik om ‘n onderskeid tussen hierdie twee fasette te tref.

Post to Twitter

This website uses IntenseDebate comments, but they are not currently loaded because either your browser doesn't support JavaScript, or they didn't load fast enough.

11 Responses to “iPad = mediocre. Toekoms = blink”

  1. kompartementaliseer – dis 'n laaaaaang woord daai!

    Interessante kommentaar. Ek dink jy het my eenkeer gese dat 'n goeie produk verkoop homself en 'n gemiddelde een moet baie beulblasery geniet om te verkoop. Dalk is dit net nog 'n beul.

    Ek dink dat 'n groot deel van die wereld se mark is nie so tegnologies ingelig soos jy nie, so om so iets se beul te hoor, moet eintlik nogal iets bonatuurliks wees – amper soos die wederkoms aankondiging…

    Reply

  2. Ek blameer jou ten volle vir die lang post wat ek nou op jou blog gaan los :)

    Toe die iPhone bekend gestel is, het kritici gekla dat dit nie kan multitask nie, dit het nie 3G nie ensomeer, ensomeer. Steve Balmer is op rekord dat hy gedink het die iPhone het nie 'n kans nie. Wat het die iPhone dan nou wat ander fone nie reeds het nie? Ander fone se kameras is beter as die iPhone. Hulle kan MMS. Die iPhone vergelyk maar sleg met hulle.

    Ek wil beweer dat mense wat funksionaliteit vergelyk tussen Apple produkte en mededingers, wel, they.just.don't.get.it. Apple was nog nooit in die mark om regmerkies te maak op 'n lysie met features nie. Apple verkoop nie gewoon 'n lysie features nie. Apple verkoop 'n gebruikerservaring. En hulle sorg dat dit die beste is wat daar is, in terme van wat hulle kies om te doen. As hulle nie 'n bogemiddelde gebruikerservaring kan bied met multitasking nie, dan los hulle die liewers. As Flash gaan afbreuk doen aan die kliënt se ervaring, dan pas Flash gewoon nie in hulle strategie in nie.

    Apple is nie suksesvol met produkte soos die iPhone (en die iPad – en suksesvol gaan dit wees) omdat mense inkoop op 'n bemarkingstrategie en dit "cool" is nie. Meeste mense is nie geïnteresseer in tegnologie nie. Hulle weet skaars wat Apple is. Hulle soek iets wat werk en hulle die beste ervaring moontlik gee waarvoor hulle kan hoop. Waar iemand wat tegnologies ingestel is dit as 'n persoonlike uitdaging mag beskou om die nuuste printer driver te maak werk, is die gemiddelde persoon wat net 'n brief wil uitdruk min gepla. Hulle wil hê tegnologie moet werk. Dit is al.

    'n Vriendin van my het onlangs 'n iPhone gekry (en nee, dit was nie my getorring nie – ek het gesê gaan kyk na die Blackberry en die iPhone en kry wat vir jou werk). Ek het op 'n stadium gedink dat dit beter sal wees as sy 'n foon kry wat sms en oproepe maak en niks meer nie. 'n Smart phone mag dalk te ingewikkeld wees. Sy het die iPhone gekoop, want sy het daarvan gehou. Sy weet nou nog nie eintlik wie Apple is nie. Dit is nie belangrik nie, en gewoon nie binne haar verwysingsraamwerk nie. Sy het wel so ruk terug gesê dat sy nie weer 'n ander foon sal koop nie.

    AT&T se netwerk het nie verniet probleme opgetel sedert die bekendstelling van die iPhone nie. Dit is ook nie sonder rede dat die iPhone die oorsprong van die grootste gros internetverkeer op mobiele platforms is nie. Ja, ander fone bied jou ook toegang tot die internet. En tog gebruik mense dit nie soos op die iPhone nie. Ja, daar was programme vir selfone voor die iPhone. Maar nie een het die impak gehad wat die iPhone gehad het nie. Die iPhone het 'n beduidende impak op die telekommunikasieberdyf gehad, soos die iPod 'n impak op die musiekbedryf gehad het. Dit het reeds bestaande tegnologieë verpak sodat dit tot gewone mense kon spreek, soos wat ander produkte nie kon doen nie. Lysies help nie as jy dit wil bereik nie.

    En ja, jy kan nie die eerste generasie iPhone, of eerste generasie iPod vergelyk met hulle eweknieë vandag nie. Maar die eerste generasie iPhone, soos die eerste generasie iPod was die begin van 'n nuwe era. So sal dit ook met die iPad wees.

    Daar is reeds aangekondig dat verskeie akademiese uitgewers hulle teksboeke vir die iPad voorberei (CNet):
    The digital textbooks promise a slew of options to take advantage of the medium, according to ScrollMotion. Students can mark text in any of six different colors to visually categorize each highlight. They can write notes or use the microphone built into the iPad and iPhone to record audio notes.
    Students can also search for text by subject, topic, and other criteria. The digital books are even capable of playing quick videos to accompany the content. Finally, students can take interactive quizzes and track their right and wrong answers on the device.

    Dink vir 'n oomblik oor die ekosisteem wat die iPad gaan vestig, en die moontlikhede wat dit vir die mediabedryf inhou. En onderwys. Dit gaan nie oor features nie en wat vandag daar is of nie is nie. En ja, oor vyf jaar gaan die iPad beter en meer gevorderd wees as vandag. Dit is maar die aard van tegnologie.

    Nie alle tegnologiese maatskappye beskik oor die vermoë om 'n wesenlike impak op 'n industrie te hê nie, want dikwels kan hulle nie verby hulle inkopielys van features kyk nie ten koste van die integrasie van die produk en ekosisteem as 'n geheel. Om dit anders in 'n Boeddhistiese metafoor uit te druk. Almal is so gefokus op die vinger, dat nie een die maan raaksien waarna die vinger wys nie.

    Apple verstaan dat dit nie gaan oor multitasking per se nie. Of Flash. Of of of. Laat mense die maan raaksien en beleef. Wat maak dit dan saak hoeveel vingers nou presies na die maan wys?

    Reply

  3. Hierdie sluit aan by wat ek hierbo geskryf het, vanaf Signal vs Noise (37Signals se blog):
    Computers shouldn't make people feel like idiots. Ek dink daar is 'n groter mark vir die iPad as wat jy besef.

    Reply

  4. Hierdie sluit aan by wat ek hierbo geskryf het, vanaf Signal vs Noise (37Signals se blog):
    Computers shouldn't make people feel like idiots. Ek dink daar is 'n groter mark vir die iPad as wat jy besef.

    Reply

  5. Nee, by all means. Ek hou van gesprekke met jou.

    Ek stem saam met elke liewe woord wat jy in jou kommentaar gelaat het. Ek dink nie ons verskil so baie van mekaar wat kennis oor Apple aanbetref nie. Waar ons wel verskil, is in ons evaluering van hierdie kennis.

    Die grootste gripe wat ek met lof vir Apple op grond van 'n sogenaamde gebruikerservaring het, is dat dit eintlik maar niksseggend is. Dit het die premis dat dit net "werk" – dat 'n mens nie daarmee sukkel nie – omdat dit op 'n manier ontwerp is wat ander maatskappye net nie kan vermag nie. Nou, met alle respek gesê – dit is die grootste klomp snert onder die son.

    Iets soos tegnologie is nie maklik om te gebruik omdat dit inherent "makliker" is nie – iets is maklik omdat jy bereid was om moeite te doen om dit aan te leer. Dit geld vir alles in die lewe wat meer breinkrag vereis as kinders maak of kos eet. Fietsry. Wiskunde. Hoe om 'n deur oop te maak. Hoe om 'n toilet te gebruik. Klavierspeel. Skryf. Printer drivers install.

    Jy sou dieselfde argument vir 'n goeie gebruikerservaring hier kon maak vir koetse en perdekarre. Hoe op aarde, sal jy destyds kon sê, verwag hierdie mense ons moet ratte verwissel, koppelaar intrap, die stuurwiel draai, blindekolle kyk, rem op die regte oomblikke, ons spoed skat wanneer ons besluit om vinnig om 'n draai te gaan, die flikkerligte aansit…

    nee GOD, sou jy kon sê – karre is belaglik – tegnologie gaan nie oor features nie, dit gaan oor eenvoudigheid! Ek wil bloot by my bestemming kom! EN MY SKOON-MA VERKIES PERDEKARRE!

    As iemand nie bereid is om hul goeie verstand te gebruik om iets deur herhaling te aan te leer nie, gaan dit altyd vir hulle moeilik bly. En kom ons wees eerlik met mekaar.

    Net soos bykans almal vandag kan kar bestuur, net so gaan daar 'n dag kom wanneer dit die natuurlikste ding is om op die Start Menu te klik of Expose te gebruik. Jy moet besef dat die artikel by 37Signals ruim gebruik maak van ouer mense (diegene wat normaalweg "sukkel") om sy punt te illustreer.

    Natuurlik gaan sy skoonma aangetrokke tot die iPad voel – sy het nog nie die spreekwoordelike perdekar afgesaal en haar verstand om die konsep van ratte probeer kry nie. Dit maak haar "domheid" nie skielik 'n wonderful boon te be respected and praised nie.

    Sure, jy kan vir haar 'n Mac koop. Sure, die hardeware ekosisteem waaruit sy peripherals kan kies gaan hierom eksponensieel kleiner wees as normaalweg. Sure, alles gaan werk. Sure, sy gaan nie voel asof daar Gremlins en Demone rondloop in haar rekenaartjie nie. Sy gaan nog steeds "dom" wees en in 'n "babyproof" omgewing rondbeweeg.

    (Oor die media-ekosisteem stem ek saam. Tog, ek kry die gevoel mense is besig om al hul hoop in die iPad te gooi. Dit is vir my net te toevallig dat die NYTimes besluit het om 'n paywall op te sit net voor die iPad bekendgestel is – en Steve Jobs heel toevallig die NYTimes besoek het in sy demo.)

    Reply

  6. George: Ek stem 100% met jou saam.

    Johan: ek stem 90% met jóú saam. In jou antwoord hierbo klink dit of jy impliseer dat die alternatiewe tot Apple meer gevorderd is, maar bietjie meer inspanning vereis om aan te leer. Die iPad is die perdekar en die die Nokia N900 of IEEE netbook is die motorkar.

    Ek dink dis ‘n onakkurate vergelyking. Ek weet van geen produk wat inherent meer moontlikhede as die iPad het nie, terwyl ‘n motorkar inherent meer moontlikhede het as ‘n kar. Wat ons eintlik het is ‘n mark met heelwat gadgets met min of meer vergelykbare vermoëns, maar waarin Apple hom onderskei in die mate waarin dit gepoleer word, en die massas mense wat hulle kan mobiliseer om ‘n ekosisteem te vorm. Laasgenoemde is van kritieke belang.

    Die motorkar sou ‘n mislukking wees sonder ‘n infrastruktuur van paaie en petrolstasies. Om verder te gaan met die motor analogie: jy kan jou voorstel dat daar baie “motors” in die elektronikawêreld is. Sommige ry stadig, sommige vinnig. Sommige het baie pakplek, en ander is moeilik om te bestuur en hul remme werk helfte van die tyd nie. Sommige is baie goed ontwerp en betroubaar, maar gebruik etanol, en daar is net groot stede etanol-vulstasies, dus kan jy nooit buite die stad gaan nie. Almal met vergelykbare tegnologie. Maar nie vergelykbare gebruikers-ervaring nie. Dan kom Apple met ‘n motor wat mooi lyk, nie Jean Claude van Damme nodig het om die stuur te draai nie, eenvoudig genoeg is om te gebruik, en wat op petrol ry. En hulle bou ‘n petrolpomp in elke dorp, en langs die snelweë.

    Domheid is nie iets om te prys nie, maar dis is noumaar so dat die grootste deel van die bevolking nie ingenieurs of h@ck3rs is nie. Daar is baie mense wat nie kan / wil / tyd het om ‘n styl leerkurwe baas te raak nie. As jy hulle afskryf as onwaardig, dan stuur jy hulle implisiet na jou mededinger dat hulle sý produkte te koop. En baie van daai mense het geld. Miskien is dit iemand wat sy eie besigheid run en nie tyd het vir nonsens nie. Hy wil vinnig in die oggend kyk wat in die nuus is sonder om “Opera mobile” op te start en rond te scroll. Of ‘n dokter wat voor hy huis toe gaan wil sien of daar verkeersopeenhopings op die snelweg is, sonder om ‘n rss feed te gaan soek in een of ander open source tool vir Linux.

    Ek hét ‘n tegniese agtergrond, en het altyd rekenaars gekoop deur op lysies af te gaan. En dan gefrustreerd geraak as die gekose graphics kaart gemaak het dat die IDE controller nie reg wil werk nie. Of as die CPU fan tot my irritasie te hard geraas het. Maar dit was okay – ek wou die meeste performance vir die minste geld hê.

    Ek het ‘n iphone. Sommige van my vriende het die Nokia E71. Die E71 kan multitask en flash speel, en sy battery hou langer. Maar in alledaagse gebruik is die iphone lekkerder. Sy groter skerm en die enorme versameling apps maak bv dat ek lekker ‘n paar bladsye in ‘n boek kan lees terwyl ek 10min wag vir die bus. Of met my ma se bobotieresep uit dropbox kan gaan haal terwyl ek in die kombuis staan.

    Ek praat nou te veel. Maar die wonderlike gebruikers-ervaring van Apple is nie toevallig nie. Net soos wat Windows se dominansie ten koste van Linux nie toevallig is nie. Miskien is die ipad ‘n flop*, maar moet ten minste nie vir Apple afskiet op grond van ‘n tegniese spesifikasielys nie.

    *PS:
    Persoonlik soek ek iets met ‘n e-ink tipe skerm waarmee ek maklik pdfs kan lees en daarop kan griffel. Dat ek nie artikels en dokumente hoef uit te print wanneer ek dit wil nasien nie. Ek kán dit al doen op my IEEE netbook + PdF XChange viewer, maar dis net te lomp. Ek soek nie nuwe tegnologie nie, maar ‘n streamlined produk. Die ipad is (nog) nie die antwoord nie.
    Francois´s last blog ..An exquisite tribute to film and architecture My ComLuv Profile

    Reply

  7. Baie goeie kommentaar.

    Ek is nie besig om Apple af te skiet nie. Ek is besig om uit te wys dat die iPad (soos baie van Jobs se breinkinders) ‘n gemiddelde produk is wat sy job doen. Gemiddelde produkte is nie baanbrekend (of soos Apple seg: magical and revolutionary) nie. Hulle reklame (en Jobs se keynote) was vir my ‘n geval van the lady protesting too much.

    Domheid is nie iets om te prys nie, maar dis is noumaar so dat die grootste deel van die bevolking nie ingenieurs of h@ck3rs is nie. Daar is baie mense wat nie kan / wil / tyd het om ‘n styl leerkurwe baas te raak nie.

    Ah, maar dis juis my punt: Apple se produkte is nie inherent “makliker” as ander maatskappye s’n nie. Neem twee ou tannies wat nog nooit aan ‘n rekenaar geraak het nie – gee vir die een ‘n Mac en die ander ‘n Wintel PC.

    Die tannie met die Mac gaan nie skielik spontaan net weet wat om te doen nie!

    Jy hoef nie ‘n 1337 hacker te wees om ‘n program te launch, dokumente te druk en e-pos te lees nie. Far from it. Enige idioot kan dit aanleer – en of hy dit op Windows, Linux of OSX doen gaan nie ‘n verskil maak aan die feit dat hy iewers sal moet uitvind hoe nie. Wanneer hy uitgevind het hoe, sal hy dit waarskynlik ook nie weer vergeet nie.

    Reply

  8. Dit is ‘n wesenlike deel van ons ekonomiese bestel dat vals behoeftes en skynvernuwings telkens by die verbruiker geskep moet word om die Stelsel se wiele geolie te hou. Dit het al so siniese besigheid geraak en mense is al so ver-skaap dat ouens soos Apple nie eens meer moeite hoef te doen om weg te steek dat die wyn in hul nuwe sakke maar bra oud is nie.

    Reply

  9. Johan, dit is presies waar ons verskil. Ons meen dat Apple dit wel makliker maak vir mense. Ja, ‘n tannie gaan nie presies weet hoe om die Mac te gebruik as sy hom aansit nie. Maar as jy die leeftyd van ‘n Mac vergelyk met ‘n Wintel, gaan sy wel minder frustrasies hê met dinge wat werk en nie werk nie. Ek weet persoonlike ervaring is nie die goue standaard nie, maar ek kan weer vir jou voorbeelde noem van tegnologies-gestremdes wat ek aanbeveel het om ‘n Mac te koop in plaas van Wintel (dit was selfsugtig ja, want ek was gatvol om IT support te wees), want ek het ‘n sterk vermoede gehad dat die oproepe vir hulp oor ses maande minder gaan wees.

    Ek deel wel jou skeptisisme oor of die iPad die koerantbedryf kan “red”. Ek dink koerante het groter uitdagings as boeke en selfs tydskrifte. En ek weet nie of daar werklik antwoorde is vir koerante nie, behalwe konsolidasie en kostebesparing.

    Ek dink nie die NY Times aankondiging was toevallig nie. Daar is nog voor die iPad-aankondiging al gespekuleer dat die Times se aankondiging verband hou met die iPad.Ek is redelik seker dat dit wel so is.

    Ns. Net om weer terug te kom na Apple se vermoë om ‘n industrie op sy kop te keer: die iPad is nog nie eers beskikbaar nie en reeds is die e-boek bedryf op sy kop gekeer en dit lyk of die iPad se eerste slagoffer Amazon is.
    George Maru´s last blog ..All hail the king My ComLuv Profile

    Reply

  10. Ek hou nie van ‘n touch screen op ‘n foon nie.Al twee bloutjies geloop met die skerm wat se sinkronisasie uit is.
    Girl van die Suburbs´s last blog ..‘n Nuwe begin My ComLuv Profile

    Reply

  11. Ek stem, die een wat die trompet die hardste plaas, gaan die meeste verkope hê.. en almal gaan sê oooooohhh, aaahhhhh. Maak nie saak hoe lankal al daardie tegnologie beskikbaar is nie. Dit klink net goed as iemand anders dit oor en oor in mooi en duur advertensies vir jou vertel. Dit maak nie die iPad noodwendig beter of slegter nie, net beter bemark.

    Byvoorbeeld: BMW se nuwe advertensies op radio: vir kry die revolusionêre tegnologie waar jy jou sleutel in jou sak/handsak kan hou (en jou deure kan oopmaak en kar kan aanskakel) saam met ‘n paar ander dinge, ter waarde van R28,000 verniet as jy voor ‘n sekere datum ‘n BMW bestel… my ou Toyota Aurissie is al amper 3 jaar oud, en ek het daardie selfde tegnologie….
    demoerin´s last blog ..Elixir of Youth…. My ComLuv Profile

    Reply

Leave a Reply

CommentLuv Enabled