Die onlangse voorval in Swellendam waar wit mense verontwaardig was omdat 'n bruin dogtertjie langs hulle wit dogtertjie begrawe is, is tekenend van 'n soort situasie wat – as dit reg hanteer word – nie as 'n ramp hoef uit te draai nie.
My (en ek is seker talle ander) eerste reaksie op die situasie is om gebelgd sowel as moedeloos te voel. Gebelgd, vanselfsprekend, omdat dit 'n rassistiese voorval is, Afrikaners in hierdie geval skuldig aan blatante diskriminasie is en dit nooit lekker is as jou eie mense hulself wangedra nie. Moedeloos, omdat dit alweer rassisme is. Alfrikkinweer.
‘n Mens wil jou hande in die lug gooi en skrou: moet dit nog steeds so wees? Kan dit nie anders nie? Kan hulle nie tog maar grootword nie?
Tog.
Die laaste ding wat hierdie situasie nodig het, is juis 'n verontwaardigde uitbarsting, omdat dit potensiëel petrol op 'n vuur kan wees wat 'n gemeenskap verder kan verdeel.
Dit sal veel meer produktief wees as die media die storie nie buite proporsie blaas en holrug ry vir beter sirkulasiesyfers nie – as die betrokke families mekaar eerder in persoon ontmoet, hul griewe deurpraat, mekaar probeer verstaan en mekaar leer vergewe.
Die laaste ding wat Suid-Afrika in elk geval nog ooit nodig gehad het, is publikasies wat sensasie najaag deur oor hierdie soort kwessies as ‘N SKOKKENDE RASSEHERRIE WAT DIE LAND AAN DIE GONS HET (MET FOTO’S VAN DIE ARME SLAGOFFERS!) te berig. Ek hoop van harte die plaaslike pers hou hul penne in toom en berig sober en neutraal oor hierdie voorval.
Mag Swellendam se gemeenskap eerder 'n rapsie nader aan mekaar beweeg as gevolg hiervan.