Ek het hierdie rubriek van Heinz Oldewage, waarin hy die volgende kwytraak:
Vir wie dit mag aangaan:
Hiermee dien ek amptelik my bedanking in as Afrikaner.
Ja, net so. Tot hier toe en nie verder nie.
met 'n glimlag gelees.
Hoe, het ek ietwat geamuseerd gewonder, bedank 'n mens uit 'n identiteit? As dit iets is waaruit 'n mens in die eerste plek kan bedank – wie het die titel dan aan jou toevertrou? Waar dien jy die bedanking in? Wat word jy daarna? (As jy nie veel verander nie, wat was die punt van die bedanking dan?)
Hoe lê 'n mens jou Afrikanerskap neer?
Eet jy minder koeksisters?
Praat jy minder Afrikaans?
Luister jy minder na Fokofpolisiekar?
Stamp jy jou kop herhaaldelik teen jou lessenaar tot jy genoeg breinskade opgedoen het om te vergeet wie Steve Hofmeyr is?
Verbrand jy Dertigers se digbundels?
Druk jy jou vingers in jou ore wanneer jy verby ander Afrikaners loop en skree fonemiese parafrases met geknerpte oë?
Hoe maak jy jou los van 'n vloeiende identiteit, waaroor niemand in elk geval vir die afgelope paar dekades al kan saamstem nie (maar wat tog bestaan), wat by jou gekweek is van kindsbeen af? Hoe kom jy los van Afrikaner-wees as jou definisie daarvan waarskynlik verskil van elke ander Afrikaner wat jy ken? Hoe los jy jou verlede agterna?
Om te sê jy bedank as Afrikaner klink dramaties, ja – maar is dit hoegenaamd 'n sinvolle stelling?