Vergewe hulle, want hulle weet nie dat hulle n00bz is nie

Breyten Breytenbach. Verstegniese legende en n00b.

Breyten Breytenbach se onlangse uitlatings oor die dood van Afrikaans is een waaragter daar veel meer wysheid sit as wat meeste mense waarskynlik besef.

Wanneer hy skryf dat hy waarskynlik in sy leeftyd nog die dood van Afrikaans gaan sien, is sy voorspelling – binne die konteks van sy eie ervaringe – akkuraat. Binne die groter konteks van alles wat tans met Afrikaans op skeppende vlak gebeur, is hy egter so verkeerd as wat kan kom.

Breytenbach is, na alles wat jy van hom kan sê, hoofsaaklik 'n woordkunstenaar. Beeldend ook, ja – hy skilder immers so af en toe. Sy hoof-”esel” is egter pen en 'n papier; sy kuns digbundels en essays. Sy oeuvre spreek van iemand wat vernuftig met woorde kan omgaan en metafore en woordassosiasies tot hul uiterstes kan dryf om soms (veral binne die konteks van die gemiddelde Afrikaanssprekende se belewenisse) beelde te skep wat uiters vervreemdend kan voorkom. (Dink maar net aan sy gereelde intertekste met die Zen-Boeddhisme en die unieke maniere waarop hy iets so primordiaal soos lewe en dood beskryf.)

As iemand wat boonop deel van die sogenaamde Sestigers is, kan 'n mens hom dus nie kwalik neem wanneer hy hierdie woorde kwytraak nie:

“… Hierdie taal… is gekaap deur mense vir hul eie politieke doelwitte en hulle het dit besoedel. Ek dink dit is byna onmoontlik om terug te gaan en dit te sien vir wat dit was.”

Dis waar. Afrikaanse letterkunde is eenvoudig nie op die waagmoedige piek wat dit in die 1960′s was nie. Daar word nie meer soveel “baanbrekerswerk” gedoen nie – daar word nie met mening teen die gemoedelike realisme van die vroeë Afrikaanse letterkunde geskryf nie, daar word nie gereeld met surrealisme in Afrikaanse tekste omgegaan en met vorme geëksperimenteer nie, daar word nie téén Apartheid geskryf nie…so sou 'n mens kon aangaan. (As jy nie weet waarna ek verwys nie, gaan lees gerus enige van die André P Brink, Breyten Breytenbach, Etienne le Roux, Jan Rabie, Ingrid Jonker en ander Sestigers se prosa en poësie van die betrokke tydperk. Dis werklik iets besonders.)

Boonop: Afrikaanse letterkunde word nie meer soveel gelees soos dit destyds gelees is nie. Dit is natuurlik nie asof Afrikaanssprekendes van 'n paar dekades terug bogemiddeld méér gelees het as vandag s’n nie – die volk (soos alle volke maar) was nog altyd maar daniger oor brood en sport as gedigte en essays. 'n Paar harde feite is egter ter sake. Weens normale bevolkingsgroei is daar vandag waarskynlik meer Afrikaanssprekendes as toentertyd en die aantal “klassieke” Afrikaanse tekste wat jaarliks vervaardig word, is doodeenvoudig minder. Boekeblaaie in koerante is vir jare al 'n vae spook van dit was eens was. Nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde kom eenvoudig nie meer so gereeld voor nie. Diegene wat die gesprek hierrondom aan die gang hou (en so af en toe darem nog publiseer), is doodeenvoudig oud.

Letterlik.

Gerespekteerde name soos Antjie Krog, Joan Hambidge, Breyten Breytenbach, Lina Spies, Marlene van Niekerk – hierdie name behoort aan mense wat reeds meer as genoeg grys rondom die slape het. Afrikaans sien eenvoudig nie meer nuwe skrywers wat met waterskeidende bundels vorendag kom nie. Wie, kan 'n mens tereg vra, pen vandag se Tristia‘s en Die Ysterkoei moet Sweet‘s neer?

Niemand.

Selfs al kom daar hier en daar 'n paar vars stemme by (dink Loftus Marais en sy lugdrukboor) is die tyd is nie meer reg daarvoor nie. Die teikenmark is ook nie meer reg daarvoor nie. Die wêreld het verander.

Almal kan publiseer.

Wanneer Breytenbach skryf dat Afrikaans nie meer is wat dit was nie, is hy – vanuit sy perspektief as woordkunstenaar – heeltemal reg. Afrikaans hét 'n “probleem” in hierdie opsig en dis ongetwyfeld een waarmee ek hoop 'n nuwe geslag digters erns sal maak (en nee – dit help nie jy’t 'n paar verse in Nuwe Stemme MMXIV nie).

Dis egter waar Afrikaans se kreatiewe stuiptrekkinge stop.

Waar Afrikaans in die digkuns spartel, is dit besig om lewenskragtig in die musiekbedryf en via die internet te groei.

Die onlangse sukses van Die Antwoord was instrumenteel hierin. Soos Rammstein destyds deur hul vertoning van Feuer Frei! in xXx in die publieke bewussyn geplaas is, het Die Antwoord Afrikaans in die oë van die res van die wêreld 'n legitieme vermaaklikheidstaal gemaak (nie hulle alleen nie, natuurlik, maar hulle verteenwoordig tog 'n definitiewe skuif wat Afrikaans en die res van die wêreld aanbetref). Mense besef dit nog lekker nie, maar Afrikaans is tans (uiteindelik?) in die posisie dat dit nie meer 'n doel hoef te wees nie, maar slegs as 'n medium kan begin optree.

Die dae van Afrikaanse musiek wat bemark word as bloot Afrikaans (so asof dit die beste ding op aarde is), is besig om getel te raak.

Dit is nou moontlik om goeie, intelligente musiek te maak en Afrikaans daarin te gebruik – en deur die res van die wêreld (en hul beursies) ernstig opgeneem te word. Dit het nou die potensiaal om te ontwikkel tot 'n taal wat mense graag sal wil vertaal, eerder as bloot ignoreer, om uit te vind waaroor betrokke kunstenaars sing. Trouens, Google het Afrikaans by sy vertalingsdienste gevoeg en sowel Chrome as Firefox bied tans outomatiese vertalingsopsies vir webblaaie aan.

Afrikaans is tans besig om waarlik deel te raak van die wêreld se leksikon. Nie te danke aan 'n klomp digters of taalstryders of Afrikaanse sakemanne nie, maar danksy jong, Afrikaanse musici wie se primêre doel nooit die bevordering van Afrikaans was nie. Dit was bloot om iets mooi te maak in 'n taal waarmee hulle vertroud is.

Ek kan nie help om te wonder of Breytenbach steeds sy onlangse uitlatings sou maak as hy wel geweet het van alles wat uit Fokofpolisiekar gespruit het en via die internet gebloei het tot iets beeldskoon nie. Sou hy weet van die werk van kunstenaars soos Jack Parow, Van Coke Kartel, Die Heuwels Fantasties en Die Antwoord, sou hy dalk sy eie woorde sluk. Sou hy kennis neem die van die medewerking van Afrikaanse en Engelse groepe (soos Foto Na Dans en Flash Republic, Straatligkinders en Desvalido), sou hy dalk twee keer dink voor hy galbraak oor die dood van diversiteit. Kon hy die aantal trefslae van hierdie groepe se musiekvideos op Youtube onder oë kry, sou hy dalk eerder lofsange oor die ontwikkeling van Afrikaans wou skryf.

Daar het waarskynlik al meer mense uit meer lande na hierdie Afrikaanse woorde geluister as wat daar Afrikaanse digbundels in die afgelope eeu verkoop is.

Sien julle dit dan nie? Wil 'n mens tegelykertyd gefrustreerd en opgewonde vir die taalstryders skree. Hoor julle dit nie? Beleef julle nie die ongelooflike spitsvondigheid van Jack Parow nie? Die surrealistiese liriese vernuf van Die Antwoord se verbasterde Afrikaans nie? Die woordpraal van Fokofpolisiekar? Die gesprekke wat Cobus Potgieter met sy derduisende nie-Afrikaanse aanhangers voer nie? Die groot aantal Nederlanders wat aktief belangstel in Afrikaanse musiek nie? Bowenal, besef julle dat dit nog maar die punt van die ysberg is? Besef julle watter wonderlike dinge lê daar juis vanweë die kulturele kruisbestuiwing van die internet vir Afrikaans voor?

Lewe julle in vervlakste grotte?

Breyten Breytenbach is nie verkeerd nie.

Hy’s net…wel, hy’s net oud.

Hulle almal is. Almal wat die goeie stryd om die voortbestaan van Afrikaans stry – almal wat aktief by die US se konvokasievergaderings betrokke is, briewe aan Die Burger skryf en taalberade hou dat die byteltjies huil, tree oumodies op. Al die Giliomee’s, Spiese, Kapp’s, De Klerk’s – ja, selfs die Breytenbachs – is deur die bank afgetree en grys. Hulle soek Afrikaans op 'n plek waar dit nie meer is nie, vind dit nie en lei dan af dis sterwend besig om om hulp te roggel. Hulle motiewe is dikwels edel – hulle metodes is net effens disparaat.

Daarom moet ons hulle respekteer, maar daarom moet ons ook begryp dat hulle nie werklik meer weet wat met Afrikaans aan ‘t gebeur is nie. En daarom moet ons onsself ook nie te veel aan hulle steur wanneer hulle bekommerd aankondig dat Afrikaans binnekort 'n lepel in 'n plafon sal invoeter nie.

Afrikaans lewe. Nie net dit nie – hy bars uit sy nate. Almal wat, soos Breytenbach, die dood van hul geliefde Taal betreur, is mense wat nie meer weet waar om na die uitbarstings te soek nie. Hulle bespied nog al die ou plekke wat aan hulle bekend was – 'n universiteit se voertale, digbundels, padtekens, dorpsname, koerante se sirkulasiesyfers. Hulle besef nie die ironie dat die einste taal wat hulle vas oortuig is besig is om uit te sterf elders besig is om perkeloos te groei en nuwe dimensies op die beskikbare mediums van ons tyd aan te neem nie.

Derhalwe: vergewe hulle. Hulle weet nie dat hulle n00bz is nie.

This entry was posted in Taal and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>