As ek ooit daaroor getwyfel het, het Eugene Terreblanche se dood vir my ten minste een ding opgeklaar: Ek is 'n Afrikaner.
Ek het nog nooit die man se oortuigings gedeel nie. Ek dink 'n volkstaat vir Afrikaners is 'n oudmodiese idee wat nie regtig in die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid pas nie. Ek beskou mense met meer of minder melanienvlakke as myself as my gelykes. Ek koop nie in op simplistiese politieke narratiewe waarin eenvoudige digotomieë tussen 'n wit “ons” en 'n swart “hulle” geskep word nie. Ek dink nie 'n antropomorfistiese godsbeeld het die aarde met sy antropomorfistiese ledemate geskep en 'n spesiale plekkie vir 'n über-spesiale Boervolk daarop toegeken nie.
Toe ek gisteraand verneem het van sy dood, was ek egter hartseer. En kwaad. En effens oorbluf.
Iemand wat groot dele van my eie herkoms met my gedeel het – een van my eie – is koelbloedig vermoor.
Ek is 'n Afrikaner – en Terreblanche se dood stem my weemoedig.