The inherent vice of capitalism is the unequal sharing of blessings; the inherent virtue of socialism is the equal sharing of miseries. –Winston Churchill
In die woonstelkompleks waar ek en 'n vriend tans bly, is daar 'n ongelyke aantal parkeerplekke per wooneenheid. Sommige eenhede het twee parkeerplekke, ander het een – en dan is daar twee enkele eenhede waaraan daar drie plekke toegeken is.
Ons woon in een van laasgenoemde eenhede, wat natuurlik beteken dat ons – volgens ons kontrakte met die eienaars, die nommer van my woonsteleenheid en die nommers wat op drie betrokke parkeerplekke geverf is – geregtig is op drie volle staanplekke. Ons het elkeen 'n motor en gebruik die oorblywende parkeerplek dus as staanplek vir besoekers. Binne die konteks van die woonstelkompleks is dit 'n soort luuksheid, aangesien daar slegs drie besoekersparkeerplekke in die hele kompleks is.
Dis hier waar die pôpô die waaierriem tref.
Tot onlangs is die derde parkeerplek pal beset deur van die ander inwoners wat slegs een parkeerplek het. Die meeste kon ek tot dusver vriendelik verjaag, maar een het gereeld aangehou om daar te stop. Dis iets my tot dusver gruwelooslik irriteer het- tot so 'n mate dat ek begin het om hom vas te parkeer en, toe dit nie gewerk het nie, netjies geformuleerde skyndreigemente in hogere Afrikaans met sy ruitveërs teen sy voorruit vasgepen het. My rasionaal:
Ek betaal hiervoor. Dis myne. Ek is geregtig hierop. Derhalwe: Skoert.
Sy waarskynlike rasionaal:
Dude, julle’t drie plekke. Ons het net een. Die derde parkeerplek word nie 24/7 beset nie – trouens, daar staan slegs 'n motor as jy 'n besoeker ontvang. Dit maak tog net SIN om daar te staan wanneer niemand daar staan nie. Anders word die parkeerplek gemors. En in elk geval: ek doen dit slegs wanneer ek dink jy’s nie hier nie.
Die netjies geformuleerde skyndreigemente het (sover ek kon agterkom, in elk geval) gewerk. Roofparkeerder X roof nie meer nie. Tog is ek seker hy’s effens nors daaroor en sal, as hy toestemming kry, midelik gebruik maak van ons parkeerplek. He suffers, I prosper – en daar is niks wat hierdie situasie binnekort gaan omkeer nie.
Tussen my en die roofparkeerder is hy dus (in hierdie opsig) 'n kommunis en ek 'n kapitalis. Ek glo dat my eiendom inderdaad myne is (om watter wettige rede ookal), dat ek daarmee mag maak wat ek wil en dat ander mense geen reg daarnatoe het nie, terwyl hy reken dat alle beskikbare rykdom en hulpbronne (in hierdie geval: parkeerplekke) gelyk tussen alle betrokke partye verdeel moet word, sodat almal ewe veel kan kry. Wanneer hy dus my parkeerplek roof, maak dit vir hom volkome sin.
Wat verskil, is ons definisie van wat “regverdig” is – iets wat anders lyk in kapitalisme as in kommunisme. Wat natuurlik ooreenstem, is die rede vir ons strydige parkeerplekoortuigings: wat ookal vir ons die beste is, dit ag ons as regverdig.
Bogenoemde is 'n konflik wat nie sommerso opgelos kan word nie en dis een van Suid-Afrika se grootste probleme – en in Suid-Afrika is die stryd natuurlik nie om parkeerplekke nie. Dis om rykdom – om eiendom, voedsel, sosiale aansien en 'n swetterjoel ander dinge wat met geld verbind word.
Wanneer die ANC Jeugliga dus aankondig dat hulle die “kapitaliste” se rykdom (soos myne) wil nasionaliseer, sê hulle in effek: party mense besit veel meer as ander mense – en dis onregverdig. Om geregtigheid te laat seëvier, sal beteken om die beskikbare rykdom in die hande van die staat ('n begrip wat vir hulle waarskynlik sinoniem is met “die Mense”) moet val, sodat dit regverdig aan almal uitgedeel kan word.
Desnieteenstaande die feit dat kommunistiese diskoers in wese op 'n selfvernietende argument rus (die spanning tussen die proletariaat en die bourgeois wat bestaansreg aan die idee gee, kan immers slegs bly voortbestaan indien daar deurgaans ekonomiese ongelykheid is), maak dit meestal sin vir almal wat dit aanhang, omdat hulle brandarm is.
As jy bykans niks het nie, is jou definisie van “regverdig” sonder twyfel dat almal ewe veel moet hê, eerder as dat sommige mense baie meer as jy het. As jy egter alles het wat geld kan koop (of, op die minste, 'n relatief gemaklike lewe lei), is jou definisie waarskynlik een met 'n tikkie meritokrasie: dat diegene wat rykdom deur die sweet van hul aanskyn en hul goeie verstand verdien het, dit toekom.
As jy brandarm is, in 'n sinkdakhuisie woon en taai arbeid in onmenslike ure moet verrig om die mees basiese behoeftes te kan bekostig, dan het Julius Malema se nasionaliseringsuitsprake sommer baie sin vir jou.
As jy DSTV agter sekerheidshekke kyk en in jou oorvloedige spaartyd kan filosofeer oor die rol van iets so metafisies soos taal as 'n tersiêre onderrigmedium en in dieselfde asem sommer kans kry om die blerrie kommuniste uit te kryt – wel…dan maak neef Malema se nasionaliseringsuitsprake waarskynlik net mooi zero sin vir jou.
Soos ateïste in 'n loopgraaf is daar weinig kapitaliste in 'n krotbuurt.
Is daar 'n oplossing vir hierdie problematiek? Waarskynlik nie. Dit kom alles neer op individuele kontekste. Wat vir een party heeltemal sin maak, is vir 'n ander een die mees absurde idee onder die son, wat 'n mens natuurlik laat wonder: kan enigiemand ooit aanspraak maak op 'n wêreldbeeld of 'n morele raamwerk wat nié idiosinkraties is nie? Presies hoe nutteloos en niksseggend is argumente wat verweer: “ja, maar dit kan tog nie – want dan verval ons in relatiwisme” nou eintlik?
Is dit hoegenaamd moontlik om hierdie soort spanning in Suid-Afrika op te los?