Liewe Afrikaner
Jy’s lief daarvoor om dit te sê: dat jy die land se paaie, brûe, hawens, vliegvelde, universiteit en ander belangrike infrastruktuur gebou het – en dat jy nou, ten spyte van hierdie indrukwekkende prestasies, verstoot word:
Maar dis nie heeltemal waar nie.
Sien, jy’t eintlik niks gebou nie.
Jy’t in jou middelklas woonbuurt gesit en jou middelklasideale op jou middelklas-rusbank voor jou middelklas-televisie gekoester. Jy’t gehoop jy word dalk ouderling, rugby gekyk, jou pensioen netjies beplan en so af en toe supermark toe gery. Dit (behalwe natuurlik vir die kere wat jy werk toe is of met vakansie gegaan het) was die naaste wat jy aan die land se paaie gekom het. (Of die brûe. Of die hawens. Of die vliegvelde. Ja, of selfs die universiteite.)
Dis swart hande wat daai paaie gebou het.
Jy’t niks gebou nie, liewe Afrikaner. Jy’t dalk 'n verlangse agterkleinneef wat iemand geken het wat eenmaal 'n bier gaan drink het saam met die ingenieurs wat die dinkwerk agter die strukture gedoen het, maar bou?
Daarvan het jy weinig gedoen.