Hersenskimme, Dan. Jou kop. Hy’s vol daarvan.

113982_751285_jpg_50687b[1]

Bringen Sie mir meinen stiffies!

Van die meer kostelike kommentaar op my rubrieke by Nuus24 is dat ek “links”, “uitverkoop” of 'n “volksverraaier” is. Die nuutste hiervan kom indirek van Dan Roodt af, wat in 'n rubriek op Praag na aanleiding van my en ander rubriekskrywers se kommentaar meen:

Op grond van die keuses en standpunte wat Naspers, sy direksie en kommentators reeds ingeneem het, kan 'n mens sê dat die maatskappy net so 'n hegte band met die huidige orde onderhou as wat IG Farben met die Nazisme gehad het.

Ek moeg bieg, dis nogal amusant hoe Roodt et al na Naspers verwys asof dit 'n outokratiese, enersdenkende maatskappy is wat sy rubriekskrywers beveel om Afrikanerbelange deurgaans in 'n negatiewe lig te skets. (Dis selfs snaakser hoe daar dikwels aangeneem word dat enigiemand wat nie met Roodt-hulle saamstem is nie, outomaties téén Afrikaners is, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.)

Ek kan natuurlik nie namens enige van die ander rubriekskrywers praat nie, maar die realiteit in my geval is veel eenvoudiger: ek is verlede jaar deur Nuus24 gekontak en gevra of ek lus is om 'n rubriek op 'n weeklikse basis vir hulle neer te pen – oor enigiets onder die son. Tydens die afgelope paar maande wat ek weekliks 'n rubriek ingestuur het, was die enigste kommunikasie tussen my en Naspers die vriendelike bedankings van Nuus24 se nuusredakteur, Peet van Aardt. (Nice ou, terloops. Koop vir hom 'n bier as jy hom op straat raakloop.) Die mees opspraakwekkendste eienskap van hierdie bedankings was dat Peet dit soms van sy Blackberry gestuur het.

Nie een keer is ek die opdrag gegee om die Afrikaner te verguis, met opset “links” voor te kom of een of ander politiese polemiek te help skep nie. (Diegene wat gereeld hier lees, sal weet dat ek gewoonlik nie veel ooghare vir politiek het nie.)

Dit kan ook nie anders nie: enigiemand wat 'n “aanlynjoernalis” soos Peet ken, sal weet dat hulle nie tyd het vir enigiets meer as bedankings nie. Hulle is eenvoudig te besig met regte werk om die rol van 'n outokratiese “His Master’s Voice” te speel. Die tempo waarteen nuus op Nuus24 en News24 verskyn, behoort vir enigiemand met 'n halwe brein dit duidelik te maak dat hulle hard werk – om nie eers te praat van die pas waarteen hulle kommentaar moet modereer nie. (Gaan loer gerus 'n bietjie watter tyd van die aand of oggendure brekende nuus gepubliseer word.)

Boonop het Roodt en sy makkers 'n baie ideale beeld van die kommunikasie in 'n maatskappy so groot (en daarom so lomp) soos Naspers. Die blote feit dat die groot Afrikaanse koerante in drie verskillende stede vervaardig word (Die Burger in Kaapstad, Volksblad in Bloemfontein, Beeld en Rapport in Johannesburg) spreek van 'n logistieke en kommunikatiewe nagmerrie. Dat elkeen van hierdie koerante boonop behoort tot 'n aparte afdeling in 'n maatskappy met veel meer sakebelange as slegs die verkoop van koerante – wat soos enige maatskappye sy eie kantoorpolitiek en interdepartementele wedywering het – dra alles daarnatoe by dat Roodt se prentjie van 'n IG Farben nie juis strook met die werklikheid nie.

Wanneer Roodt dus skryf:

Terwyl die land verval het in iets tussen 'n Zimbabwe en 'n Rwanda, met daaglikse gruweldade – net eergister is 'n een jaar oue babadogtertjie in haar ouerhuis aangeval en vir dood agtergelaat – hou die slimjankommentators van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport vol om Suid-Afrika as 'n demokratiese utopie te beskryf.

is hy besig om 'n strooipop op te stel wat nie met reg kan bestaan nie. Die “slimjankommentators” van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport hou nie vol om Suid-Afrika “as 'n demokratiese utopie te beskryf” omdat hulle so beveel word nie. Daarvoor is Naspers se strukture (nes enige ander maatskappy met meer as 10 000 werknemers) waarskynlik heeltemal te lomp. Nee: hulle skryf waarskynlik wat hulle skryf bloot omdat hull dit wil skryf.

Dis wat ek doen, in elk geval. Ek het 'n vermoede die res maak ook so.

Miskien moet een van die ongelooflike filosofiese kuberkrakerkommandos van Praag by Naspers se e-posbedieners indring en al die kommunikasie in 'n knapsak (hopelik vol stiffies – stiffies is cool) aan Roodt oorhandig om te fynkam, sodat hy eiehandig kan ontdek hoe oningelig sy bespiegelinge werklik is.

Hersenskimme, Dan. Jou kop. Hy’s vol daarvan.

This entry was posted in Media and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>