Met dit inaggenome, dink ek dit sal goed wees om uit te brei oor wat in my kop aangegaan het toe ek dit neergepen het.
Die oorspronklike skrywe was 'n reaksie op 'n kommentaarstuk op Nuus24, wat 'n idee eggo wat ek graag wou dekonstrueer: dié van groepsidentiteit. Ek het dit gedoen deur die inskrywing te rig op 'n “Liewe Afrikaner” sonder 'n klinkklare aanduiding van wie dit is. Die manier waarop daar na hierdie “Liewe Afrikaner” verwys is, het daarop gedui dat daar van Afrikaners in die breë gepraat word. Die skermskoot en Afrikaanse morfologie het egter op die teenoorgestelde gedui: dat daar na 'n individu verwys word eerder as 'n groep. (“Afrikaner” het immers nie 'n agtervoegsel wat op meervoud dui nie.)
In eersgenoemde geval sou 'n mens sterk kritiek kon opper. Dit is immers te dik vir 'n daalder dat Afrikaners niks in Suid-Afrika gebou het nie. (Die feit dat baie Afrikaners ná 1902 in fabrieke en op spoorweë gewerk het, weerspreek hierdie idee.) In laasgenoemde geval sou 'n mens egter 'n duidelike saak kon maak dat 'n individu wat in 2010 op 'n Afrikaanse nuusblad kommentaar lewer, nie verantwoordelik was vir 'n klomp van die strukture in Suid-Afrika nie.
In beide gevalle geld die volgende: dat mense dikwels vir hulself prestasies toeëien wat hulle tegnies nie toekom nie.
Of 'n mens werklik aanspraak kan maak op die prestasies van die mense met wie jy jouself assosieer, is deel van die problematiek van enige groepsidentiteit. Het alle Suid-Afrikaners byvoorbeeld die Rugby Wêreldbekertoernooi in 1995 gewen, of was dit alleenlik die triomf van 15 rugbyspelers, 'n paar reserwes en die afrigter? Beteken die oorwinning van jou skool se debatspan dat jy skielik 'n welsprekende redenaar is – of beteken dit bloot drie skoliere het drie ander skoliere retories uitoorlê? Is die maatskappy waarvoor jy werk se rekordwins ook joune as jy bloot elke dag die toilette skrop?
So kan 'n mens ook die vraag vra of alle Afrikaners deel gehad het aan die ontwerp en bou van 'n groot deel van die land se strukture en of dit alleenlik maar die prestasie van 'n handjievol (meestal wit) ingenieurs en 'n oorvloed (meestal swart) arbeiders is.
Wanneer is dit regverdig om iets wat jy nie gedoen het nie vir jouself toe te eien? Dit, reken ek, is 'n vraag wat baie Afrikaners soos die Nuus24-kommentator hulself gerus kan afvra, nes Sipho Hlongwane onlangs die volgende vir Steve Hofmeyr gevra het (nadat laasgenoemde sy mond oor Juliaaarse Malema uitgespoel het):
I also find it quite funny that you “own” Westernism, just because you’re a white man. Don't give me that “us” vs “you” nonsense. Where were YOU when the printing press was invented, Steve? Where were YOU when the nuclear bomb was invented? Did you help Gottlieb Daimler with that first motor vehicle? Did Thomas Edison consult with you when he had that light-bulb idea? Until Julius Malema drives a car that YOU built, and wears a shirt that YOU designed, don't come at me with that humus.
Die meeste Afrikaners het nié 'n pad gebou, 'n brug beplan, 'n myn bestuur of 'n wetsontwerp geratifiseer nie. Die meeste Afrikaners hét (veral sedert die 1960’s) rustige, middelklas lewens in stedelike en voorstedelike woonbuurte gelei, met slegs 'n koerant of twee en die SAUK om hulle te vertel wat in die land aan die gang was. Inderdaad was sommige van hierdie Afrikaners uitmuntende ingenieurs, sakemanne, regsgeleerdes en dies meer, maar dat die meerderheid handjie bygesit het om die N1 te help beplan (of teer)?
Daarvan is ek nie so seker nie.
Verskil gerus.
![2697_afrikaner[1]](http://gormendizer.co.za/wp-content/uploads/2009/05/2697_afrikaner1.jpg)