Voor ek 'n paar ruminasies oor Die Antwoord publiseer, die volgende:
Ek ken nie Die Antwoord nie. Ek het al Yo-Landi se pa ontmoet (moenie vra nie, ek gaan nie sê nie), maar dis die naaste wat ek al aan die kletsrym-duo (dis reg – ek het “kletsrym” gebruik…) kon kom. Dat hulle besig is met toneelspel, is ooglopend. (Yo-landi se regte naam is nie Yo-landi nie en Ninja…wel, niemand noem hulle kind Ninja nie, doen hulle?) Dat hulle iets het om te sê, is nog duideliker.
Wat dit is, is natuurlik 'n volgende storie.
As oud letterkundestudent kan ek nie anders as om tekste…wel…te interpreteer nie. Ek het groot waardering vir Derrida se uitspraak dat alles teks is en vind aanklank by die latere Wittgenstein en die konsep van taalspele. (As daar een ding in jou lewe is wat jy lees voor jy doodgaan, maak dit Philosophical Investigations. Jy sal nie spyt wees nie.)
Die Antwoord is myns insiens 'n teks. Ek kan dit slegs interpreteer op my eie manier, met idees wat vir my sin maak. As jy dus vir 'n finale antwoord op Die Antwoord soek, hou verby. Ek kan dit nie gee nie en gaan dit ook nie probeer gee nie. Al wat ek kan doen, is om na een teks (Die Antwoord) te kyk, dit met 'n ander een (Suid-Afrika soos ek dit ken) te vergelyk en te kyk wat pop uit.
Laat geen fanboi my dus aankla van zef-laster nie.