Soms stap jong gelegitimeerdes by kweekskole uit, toegerus met oorgenoeg kennis oor die Bybel om nié hul gemeentelede te vertel dat elke liewe lettertjie daarvan deur God self en Sy antropomorfistiese vingers geskryf is nie. Geskool in hermeneutiek en allerhande dinge wat saakmaak wanneer tekste ter sprake kom, stap hulle daar uit.
En dan gaan hulle wragtig.
Waaragtig.
Gaan hulle na gemeentes.
En verswyg alles wat hulle geleer is.
Nie 'n woord sal hulle rep oor die problematiek van vertalings, die veelvlakkige kompleksiteit van taal en die twyfelagtigheid van begrippe soos “ewige waarheid” of 'n “finale betekenis” nie. Stil-stil sal hulle nalaat om te noem dat baie dinge nie is soos dit vir gemeentelede voorkom nie – dat die term “God” byvoorbeeld as 'n sambreelterm vir verskillende eiename uit verskillende tydperke gebruik word, dat die woord “hel” meestal nie na 'n metafisiese smetput nie, maar 'n destydse ashoop buite Jerusalem verwys, dat nie God nie, maar Paulus homself uitgelaat het oor onderdanige vroue.
As hulle plakkate en vetkryttekeninge teen Sondagskoolklaskamers se mure sien wat verduidelik hoe Adam en Eva regtig bestaan het, sal hulle swyg. Wanneer 'n kerkraadfaksie aandring dat die kerk anti-evolusieplakkate teen die kerksaalmure aanbring, sal hulle ambivalent knik, maar nie veel doen om dit te stuit nie. Hulle sal baie dinge vir hulle gemeente leer, maar wat in die kweekskool oor die Bybel geleer is, sal hulle uitlaat.
Met 'n glimlag en 'n uitgestrekte hand wat weekliks na die plafon reik, sal hulle stil die kennis wat aan hulle toevertrou is vir hul lidmate vermoor. En hulle sal dit met 'n glimlag doen.
Soms word ek kwaad.