Om die een of ander rede verwar mense die ANC se voorgestelde Wet op die Beskerming van Inligting met die voorgestelde mediatribunaal.
Wanneer koerante hieroor berig, word sowel tribunaal as wet genoem, maar handel die meerderheid van die berig dan oor die wet. (Sien byvoorbeeld hierdie berig van die Mail & Guardian.) Besoek gerus self 'n paar Suid-Afrikaanse koerante se webtuistes en probeer 'n duidelike uiteensetting van die voor- en nadele van die tribunaal kry. Jy gaan dit waarskynlik nie vind nie.
Die voorgestelde wetsontwerp is 'n gevaarlike idee en vanselfsprekend 'n bedreiging vir ondersoekende joernalistiek, vryheid van spraak en die vloei van inligting na die publiek. Daaroor, dink ek, is almal dit eens. Sodanige wetsontwerp hoort nie in Suid-Afrika nie en sal nie die toets van die grondwet deurstaan nie. Hoe vinniger die hansworse in die parlement dit besef, hoe beter vir almal van ons.
Die voorgestelde mediatribunaal, daarenteen, is 'n liggaam waar daar teen onverantwoordelike en misleidende verslaglewering geappeleer kan word. Ek vind dit moeilik om te begryp hoekom die pers so gekant is teen die konsep – dis op geen manier ongrondwetlik, verkeerd of selfs onsinnig vir groot instellings om deur 'n onafhanklike reguleerder dopgehou te word nie. Die uitsaaiwese het die BCCSA. Die telekommunikasiebedryf het ICASA. Verkiesings het die IEC. Die sakesektor het die Kompetisiekomissie. Die hele land het die Menseregtekomissie en die Hof.
Die pers? Hulle het die Persombudsman.
Anders as die ander liggame in Suid-Afrika wat veronderstel is om seker te maak mense en instellings tree nie onregverdig op en skaad ander mense of instellings se regte of eiendom nie, is die persombudsman egter nie onafhanklik nie. Die liggaam wat veronderstel is om die media te reguleer, bestaan uit lede van die media self.
Vergeet vir 'n oomblik dat die ANC die leisels van die tribunaal in die hande van politici wil hê. (Dis loutere snert en sal waarskynlik ook nie grondwetlike inspeksie slaag nie.) Oorweeg vir 'n oomblik slegs hul kritiek op die Persombudsman, wat in wese kapsie maak teen 'n liggaam wat homself reguleer sonder enige insette van buite. Ruim vir 'n wyle al jou vooroordele oor die regerende party uit die weg (moeilik, ek weet) en dink vir 'n wyle nugter oor die kwessie.
Is 'n liggaam wat homself reguleer ooit ‘n goeie idee?
Dis maklik om te argumenteer dat politici wat 'n tribunaal beheer korrup kan raak, dit manipuleer vir eie gewin en sodoende die hele tribunaal gevaarlik en irrelevant kan maak. Dis ook heeltemal korrek. Die argument wat mense hierna maak (“die media moet dus eerder homself reguleer!”) is egter 'n non sequitur. Die feilbaarheid van die ANC maak nie die media outomaties onpartydig en onfeilbaar nie. Lede van die pers kan ook gekorrupteer word. (‘n Nering maak jou nie korrup nie – buitensporige bedrae geld wel.)
Die ANC se motivering vir die tribunaal (wat myns insiens grootliks op die wegsteek van hul eie onbevoegdhede neerkom) is waarskynlik nie goed genoeg nie. Dit neem niks weg van die ooglopende probleem dat niemand oor die onbevoegdheid wat soms in die pers heers, waak nie. Om te sê dat mense feilbaar is en koerante “natuurlik soms foute gaan maak”, is nie goed genoeg nie, nes dit nooit goed genoeg sal wees om voor die Menseregtekomissie te getuig dat jy 'n mens is en net 'n fout gemaak het toe jy iemand weens haar seksualiteit vermoor het nie, of jou maatskappy se misbruik van 'n ander maatskappy se radiogolflengtes plaasgevind het omdat jou werknemers mense is en mense soms foute begaan nie.
Jammer help nie altyd nie.
‘n Feilbare pers is beter as geen pers nie, ja. Dis net jammer niemand is bereid om te erken dat 'n feilbare pers met 'n onafhanklike liggaam wat hulle in die bek kan ruk wanneer hulle aanjaag (wat binne die konteks van joernalistiek eintlik maar “lieg” beteken), selfs beter is nie.
Goeie joernaliste skryf immers nie ongeverifieerde stories nie – hulle insinueer tog nie slinks halwe waarhede aan hul lesers of lieg deur die opsetlike weglating van feite nie. Goeie joernaliste skryf tog nie uiters subjektiewe stories wat mense, maatskappye of instansies onnodig en verkeerdelik swartsmeer nie – is tog nie gefokus op sensasie nie, maar ruiterlike waarheid. Of hoe?
Geen joernalis wat sy of haar sout werd is, hoef ooit so 'n tribunaal te vrees nie.
Om helderheidsonthalwe, reken ek, moet 'n beter onderskeid getref word tussen die voorstelle vir die wetsontwerp en die tribunaal. Die pers se besware teen die ANC se idee van 'n tribunaal is net so geldig soos die ANC se beswaar teen die Persombudsman soos dit tans daaruit sien en dit verdien die land se aandag. Die onvoldoende en vae beriggewing daaroor wat tans aan die orde van die dag is, doen niemand egter 'n guns nie.
![free_press[1]](http://gormendizer.co.za/wp-content/uploads/2010/08/free_press1.jpg)