Gedagtes oor die relevansie van die @sablogawards

Hek. Wagters. Hulle sit daar.

Die SA Blog Awards 2010 is tans in 'n finale stemfase.

Ek het nie werklik probeer deelneem hierdie jaar nie, omdat ek eenvoudig nie meer die punt van die hele proses kan insien nie. (In die verlede het ek gepoog om iewers te kom in die kompetisie en selfs 'n troosprys of twee gewen – toe het dit selfs vir my iets beteken.)

Vanjaar het ek daarom 'n opsetlike poging aangewend om nié inskrywings te maak om almal te herinner om vir my te stem nie, nié die “stem-vir-my-want-my-blog-is-belaglik-cool”-banier iewers prominent in my sidebar te plak nie, nié om te gee nie. (Ek het myself genomineer  - iets wat almal in elk geval doen – maar dit was bloot om hulle sisteem te toets.)

Vanwaar die traak-my-nie-agtigheid?

As 'n mens mooi daaroor dink, is toekennings vir blogs totaal en al teenstrydig met die hele idee van die internet. Dis tog 'n ruimte waar enigiemand enigiets kan publiseer – waar die redaksionele hekwagters wat tradisioneel oor publieke inhoud gewaak het, oorbodig geraak het. As jy die lof van jou ma se tante se ouma se berugte melktertresep met 'n liriese epos in terza rima wil besing en dit met 'n gemiddeld van tien spelfoute per strofe op jou blog wil doen, kán jy. Niemand gaan jou keer nie.

Kwaliteitsbeheer is nie 'n voorvereiste vir 'n blog nie. Blogs hoef ook nie geliefd te wees deur soveel moontlik mense nie. As jou leserspubliek uit niemand anders as jou ouers en jou kat bestaan nie, het jy netsoveel reg om iets te publiseer as 'n koerant met sirkulasiesyfers wat in die duisende gaan draai.

Kan die inhoud op 'n blog beoordeel word? Natuurlik! Dis net, om dit doen, is in wese maar om prosa (of fotografie of kinematografie) te beoordeel – iets waarvoor daar al vir jare standaarde is. Daarenteen is riglyne vir kategorieë by die SA Blog Awards wat inhoudspesifiek is (beste inheemse taal, mees humoristiese inskrywing, beste blog oor politiek et cetera), opsigtelik afwesig.

Blogs is nie 'n genre nie. Dis platforms. Om vir die beste platform te stem in 'n kompetisie sonder enige duidelike kriteria waaraan die platform gemeet moet word, is sinloos. Om vir 'n platform te stem asof dit wel 'n genre is sonder enige beoordelaars wat, sê, 'n paar jaar se nagraadse opleiding in teksanalise of ervaring as skrywers (of fotograwe of aanbieders van kletsprogramme) het, is 'n mors van tyd.

Wat help dit tog jy publiseer jou gedagtes in 'n arena waar redaksionele hekwagters verdwyn het en probeer terselftertyd deelneem aan 'n kompetisie waar nuwe hekwagters sporadies aangestel is?

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>