Ek luister die afgelope tyd nogal baie na Jack Parow se eponymous (sorrie, geen Afrikaanse vertaling vir daai een nie) debuut. Dis goed. Baie goed. Ek moet egter ook bieg – ek raak soms omgekrap vir Afrikaners wat die musiek veroordeel op grond daarvan dat dit te “kommin” na hul smaak is. Sien byvoorbeeld hierdie kommentaar by Rapport:
Of hierdie kommentaar:
Of hierdie kommentaar:
Of hierdie kommentaar:
Of…wel, jy kry die idee.
Ek besef die kêrel se musiek is nie vir almal bedoel nie. (Ek sal dit self nou nie juis vir my ouma speel nie.) Dis wel jammer dat so min mense kan insien hoe die Parow-karakter enersyds 'n slim interteks met die stereotiepe Amerikaanse rapper is, maar andersyds een wat die aanklaers se eie kommin-streep (veralgemening, ek weet) tegelykertyd omhels en parodieer.
Sy lirieke besing sy eie lof op presies dieselfde manier as wat Amerikaanse rappers dit doen: uitspattig en oordrewe, asof hulle probeer oorkompenseer vir iets. Jack kry al die poppies, Jack is die life vannie party, Jack is so gevaarlik dat elke nagklub voor sy rowwe, rou rapstyle neerbuig. Dis egter nie al nie. Met sy liedjies hef Parow terselftertyd dinge op wat baie Afrikaners as eie aan hul kultuur beskou. Hy’s 'n aardige konkoksie van die Amerikaanse bietse en bling en die Afrikaner se braai, boeremusiek en rugby. Hy’t nie hangups oor wie hy is of waar hy vandaan kom nie en vrede met die verlede. En hy’t 'n nouer band met sy felste kritici as wat baie van hulle dalk sal toegee.
Hy besing immers die lof van rugby. Van braai. Van brandewyn en Coke. Van ‘n nadors. Dis alles presies dieselfde onderwerpe waaroor elke tweede “kunstenaar” jaar na jaar by musiekfeeste sing, presies dieselfde goed waaroor Juanita du Plessis al so dikwels gesing het, presies dieselfde dinge wat baie van haar aanhangers graag aanvang terwyl hulle luidkeels vir die Bloubulle skree.
Die ironie is skryend. As Parow “kommin verby” is, dan is Liesl, Debbie, Minri en kie ook kommin verby. Hulle skud immers gereeld hul boude (of hul biskit) op die maat van 'n pompende Patayo, nie waar nie? Parow doen dit bloot met boeremusiek:
Wakker skrik, Afrikaner. Jy kritiseer jouself.


