Perspektief, het Fokofpolisiekar eenmaal gesing, is nie 'n speelding nie. Tog is daar mense wat gereeld bereid is om daarmee te speel, soos hierdie ou, wat skynbaar reken Afrikaners se geskiedenis bestaan uit 'n enkele veldslag:
Dis altyd maklik om 'n “ons” en 'n “hulle” op te haal en dan alles wat goed is aan die “ons” toe te dig. Om mense op te blaas (met bomme, mind you) was natuurlik nooit 'n goeie ding nie, maar so ook is die doodskiet van derduisende mense – of hulle jou nou met assegaaie bestorm of nie – seker ook nie 'n goeie ding nie?
Sou 'n mens nie eerder kon sê dat oorlog altyd ongewens is nie – dat, as bomplantings in Wimpy’s sleg was, Bloedrivier en die geloftedag wat daaruit gespruit het net so sleg was? Dat die trekkers wat Zoeloes voor die voet doodgeskiet het se skietery sleg was, dat die Zoeloes wat die trekkers vol gate wou steek se stekery net so sleg was en dat pogings om enige vorm van moord op te hemel oor die algemeen maar sleg bly?
“Ons” is selde so vlekkeloos soos ons dit graag wil hê, né?
