Ek het Jonathan Jansen se onlangse bydrae tot Times Live met gemengde gevoelens gelees. In 'n stuk getiteld “Tribal lines still firmly drawn” argumenteer hy dat Suid-Afrikaners, wanneer hulle voor krisisse te staan kom, te dikwels nog laertrek in stamverband eerder as om rasioneel na oplossings te soek:
Logic gives way to emotion, argument to anger. The evidence does not matter; after all, what can you expect from Indians, they steal; or from whites, they’re racist; or from Africans, they’re incompetent.
Jansen druk sy vinger op 'n verskynsel wat oor jare genadiglik begin verander het, maar steeds weier om te wyk. Hy’s reg wanneer hy skryf dat Suid-Afrika waarskynlik eers getransformeer sal wees as 'n wit man kan opkom vir 'n swart man wat te na gekom is om geen ander rede nie as dat die te nakoming verkeerd is. Hy’s ook reg om te dink dat ons nog nie by daardie punt is nie.
As jy meen hy oordryf, dink gerus aan die onlangse Bees Roux-voorval, waar 'n swart polisieman deur 'n wit rugbyspeler doodgemaak is. Dink aan die moord op Eugene Terre’blanche vroeër vanjaar, waar 'n wit man deur twee swart mans vermoor is. Die moorde het wye dekking in die media geniet en mense amper by uitstek in wit en swart laat dink. Die boer moor al weer die swartman! Die swartman moor al weer die boer! Bloody wit rassiste! Bloody donker Afrika! Agents!
Ek is oortuig dat baie Suid-Afrikaners, wanneer hulle rasioneel met Jansen se kritiek gekonfronteer word, van hom sal verskil. (Sien byvoorbeeld hierdie repliek.) Die probleem is dat dit juis nie ons rasionele kant is wat besluite neem in situasies soos bogenoemdes nie. Wanneer krisisse ons tref, is dit ons primitiewe, emosionele kant – dit waarna Seth Godin so gepas as “the lizard brain” verwys - wat die oorhand kry.
Juis hier begin my gemengde gevoelens oor Jansen se betoog. Aan die een kant begryp en eggo ek die strekking van wat hy probeer sê. Ek hoop van harte ons kan mettertyd van ons irrasionele rasse-stereotipes afskeid neem en ophou om selfs onbewustelik die slegste van mekaar te dink. Aan die ander kant is ek huiwerig om sonder meer 'n reënboog vol geluk en huppelende katjies vir die land te voorspel wanneer hierdie spesifieke stereotipes afsterf.
Rasse-stereotipering is immers nie die enigste van sy soort nie. Daar is etlike ander vooroordele wat maak dat ons mekaar te na kom, of dit plaaslik in ons eie gemeenskappe (daai skool is sus, daai kerk is so) of internasionaal oor landsgrense heen (F$k Suarez! F@kk3n Uruguay!) is. Vir elke slegte vooroordeel wat ons uit ons koppe verban, is daar tien ander wat sy plek kan inneem.
Stamme kan ook nie noodwendig slegs op grond van ras (of selfs etnisiteit) gedefinieer word nie. Gesinne, families, gemeentes, gemeenskappe – al hierdie entiteite is op 'n manier tog ook stamme. Trouens, ons is almal deel van 'n groter saamgestelde stam “Suid-Afrika”. Wanner ons doen wat ons skielik goed reggekry het tydens die onlangse wêreldbeker sokkertoernooi en haat teen ander lande projekteer soos een man, is dit ook diskriminasie op grond van stereotipes. Daarmee het ons skynbaar nie 'n probleem nie.
Wanneer 'n mens in ag neem dat Suid-Afrika 'n ingewikkelde samevoeging van uiteenlopende etniese groepe is (iets wat weinig met velkleur uit te make het) en dat die bewaring van hierdie groepe onderskryf word deur die grondwet, raak die kwessie veel meer ingewikkeld. Suid-Afrika is nie bloot wit, swart en bruin nie. Ons is Xhosa, Afrikaner, Zoeloe, Indiër, Sotho, San – die lys is lank en divers. Soos in enige ander land is ons etniese groepe ook nie eers altyd in stemming oor alles nie. (Dink aan Afrikaners, wat al in die 1800s deur een van hul eie mense gebrandmerk is as “steeks perde“!)
Om rasse-stereotipes 'n sondebok te maak wat in die pad van Suid-Afrika se voortvarendheid staan, kan 'n misleidende speletjie raak. Dit klink wonderlik, maar ek is nie seker of ’n mens met reg kan droom van 'n “detribalised Suid-Afrika” post rassisme as ander “ismes” skynbaar altyd volop sal wees nie.