Christian is a great noun but a poor adjective – Rob Bell
Nou die dag neem ek aan 'n gesprek deel saam met 'n groep vriende, wat heel toevallig op die onderwerp van godsdiens afstuur. Iemand begin toe onthuts vertel van 'n troue wat sy bygewoon het. Die geleentheid se huwelikseremonie is deur 'n charismatiese pastoor van 'n bekende evangelistiese gemeente op Stellenbosch gelei, waartydens genoemde pastoor ná 'n ellelange preek en 'n alter call of twee besluit het: dis sommer nou hoog tyd ook dat hy iemand gesond bid.
Hier slaat ek nou oor na die historiese presence. Meer trefkrag en so, sien?
Hy voel, verklaar die pastoor dramaties, dat die Here op hierdie oomblik vir hom sê dat hier iemand onder die gaste is vir wie hy moet bid. Terwyl hy hierdie woorde uiter, dartel sy oë oor die gehoor tot hy 'n tannie met 'n poliobeen op 'n hooibaal sien sit. Mevrou, seg hy, die Here sê vir my ek moet jou bless.
En hy begin bid dat die spoeg spat.
Op hierdie punt, noem die verteller, was dit darem 'n bietjie té vanselfsprekend dat die pastoor nie 'n stem uit die hemel gehoor het nie, maar bloot rondgekyk het tot hy iemand met 'n baie opsigtelike skeet gesien het. Hy't nie eers moeite gedoen om 'n vindingryke kwaal op te maak of sy gehoor te probeer cold read nie.
Sy kon sweerlik net daar opstaan – vertel die onthutste verteller ons verder – en die pastoor toesnou: “jy't g'n niks nou iets van die Here af gehoor nie! Jy maak dit op!”
Maar sy moet eerder nou stop, noem sy verder, want sy’s nou lelik. Sy't haarself belowe sy gaan nie weer so daaroor praat nie.
Dis immers darem nie reg om so te praat nie.
Nee, val ek haar in die rede. Ek dink nie jy moet skaam wees nie. Trouens, ek dink jy moet trots wees op jouself. 'n Mens hoef tog nie verskonings hoef te maak vir iets wat jou duidelik omkrap nie. Dis tog heel absurd? (Waarvoor is jy bang – dat 'n weerligstraal jou in twee gaan kloof omdat jy durf hardop sê wat jy in elk geval by jouself dink?)
Nee.
Maar soos baie ander gematigde Christene weet sy darem nie. 'n Mens wil darem nou nie lelik wees of onnodig kwaad raak nie. Jy weet?
Ek weet ja.
En genade, as Christene tog maar net meer wil kwaad raak oor hierdie soort goed, eerder as om deemoedig te sit en te maak asof manipuleerders godsmanne is…