Delia Knox, 'n Amerikaanse gospelsangeres wat volgens oorlewering 23 jaar verlam was nadat 'n dronk bestuurder op Kersdag 1987 in haar vasgery het, het onlangs vir groot opslae gesorg toe sy uit haar rolstoel opgestaan en voor 'n kerk vol mense begin rondloop het. Haar opstanding het plaasgevind nadat sy die hande opgelê is deur 'n pastoor van Bay of the Holy Spirit, ‘n gemeente wat as 'n reël geloofsgenesing by hul liturgie insluit.
Die “genesing” het in 'n ietwat voorspelbare twissaak ontaard. Oortuigdes voer aan dat geen skeptikus Knox se genesing kan betwyfel nie, omdat dit glashelder op video te siene is. Meer bewyse, reken hulle, kan tog nie nodig wees nie. Skeptici, daarenteen, hou vol dis 'n klug. Wie het gelyk?
Ek wil graag 'n antwoord aan die hand van 'n anekdote waag.
Toe ek in my universiteitsjare by 'n apteek gewerk het, was een van die take wat ek en 'n vriend opgelê is die plak van etikette met pryse op voorraad – 'n oefening wat meestal vereis het dat ons soos kluisenaars agter in die apteek se stoor gesit en swoeg het. Soms het dit egter gebeur dat die apteek se rakpakkers besluit het om die voorraad uit te pak nog voor ons dit kon bykom met ons prysgeweertjies. In sulke gevalle het ons die plakwerk sommer in die apteek self gaan doen.
Apteke hou twee soorte produkte aan: nuttiges en nutteloses. Die nuttiges sluit voorgeskrewe en generiese medikasie in, maar omdat medikasie dikwels nie genoeg wins maak om 'n onderneming aan die gang te hou nie, verkoop apteke ook dinge soos haarsproei, parfuum, babadoeke en donkerbrille. Hoewel nie altyd farmaseuties nie, is hierdie items ten minste nuttig.
Onder die nutteloses val dinge wat miskien ten beste as “kwaksalwery” beskryf kan word: verslankingspille, homeopatiese mengsels, brousels wat belowe om jou nedergedeeltes so groot soos die taalmonument te laat groei en natuurlik: verjongingskure.
Dit gebeur toe eenmaal dat 'n rakpakker van hierdie nuttelose voorraad sonder pryse in die gaan apteek uitpak en ek kort daarna kruisbeen voor 'n rak stelling inneem met my prysgeweertjie. Langs my was 'n vriendelike apteektannie wat reggestaan het om die apteek se nuutste wonderkure aan die buurt se liggelowiges te verkwansel. Een hiervan was 'n pil wat jou kwansuis jonger maak – kompleet met 'n lewensgrootte kartonfiguur van 'n glimlaggende jong man in die hoek van die afdeling.
Dié pil wérk, het die tante my opgewonde vertel. Sy was onlangs by 'n konferensie waar die uitvinder daarvan (dis nou die vent op die karton in die hoek) 'n saal vol mense toegespreek het. En ‘troesbob: hy het nie 'n enkele plooi op sy gesig of 'n grys haar op sy kop gehad nie. Trouens, hy ‘t sommer hups 'n klomp opstote op die verhoog gedoen om sy jeugdigheid te illustreer. Hy het nie net soos 'n jong man gelyk nie – hy't selfs soos een opgetree. Klinkklare bewyse, het sy geborrel, dat hierdie wonderpil jare by jou ouderdom aftrek.
Een kyk na die “uitvinder” op die kartonuitknipsel was genoeg om sy nuutgevonde vitaliteit te verduidelik: hy was óf in sy twintigs en het gelieg oor sy ouderdom, of 'n akteur in sy twintigs wat voorgegee het om die vyftigjarige uitvinder te wees. Hoe dit ookal sy: beide leuens sou slegs een doel voor oë hê: om die gehoor in so 'n mate te beïndruk dat hulle die produk wil koop en ander daarvan wil vertel sodat selfs meer produkte verkoop kan word.
Toe die apteektannie hom sien opstote doen het, was dit nie oëverblindery nie – 'n jong man het werklik voor haar en die res van die gehoor spiertoertjies uitgevoer. Dis nie wat sy gesien het nie, maar wat sy oor die man vertel is wat waarskynlik (soos die filosoof Van Tonder ons leer) bull twang is.
Terug, daarom, by Knox.
Wat weet ons bo alle twyfel van haar mirakelagtige rondlopery? Net dit: dat sy wel rondgeloop het. Ons sien in die video hoe sy in die rolstoel sit, ons sien hoe die pastoor haar die hande oplê, ons sien hoe sy opstaan en triomfantelik begin loop. Nes die “uitvinder” by die konferensie werklik opstote gedoen het, het Knox regtig uit haar rolstoel opgestaan en rondbeweeg. Hieroor kan 'n mens nie veel van 'n teenargument maak nie.
Wat ons nie gesien het nie, is die motorongeluk waarin sy volgens oorlewering verlam was. Ons het nooit die bestek van haar verlamming geken nie. Ons weet nie of sy fisioterapeutiese behandeling ontvang het en na 23 jaar 'n rits deurbrake gemaak het nie. Ons weet nie of haar publieke opstanding uit die rolstoel die eerste keer was wat sy wel na die ongeluk opgestaan het nie – of sy voor dit dalk vir maande in haar huis geoefen het om regop te bly nie. Trouens, ons weet nie eers of sy ooit werklik verlam was nie: of die storie van die motorongeluk enigsins 'n greintjie waarheid daaraan het nie. Al wat werklik ons aan bekend is, is die feit dat sy kan loop.
Baie mense kan loop.
Vir Knox se mirakelagtige rondlopery om werklik 'n mirakel te wees, vereis nie dat sy uit 'n rolstoel opstaan en rondloop nie. Dit vereis eerder dat die storie wat rondom daardie rondlopery vertel word die ware Jakob is. Enige aap kan sien sy ‘t opgestaan. Of die storie daaroor verifieerbaar is, is myns insiens 'n veel belangriker vraag wat te dikwels oorgesien word.
Was Knox werklik permanent verlam? Het sy regtig spontaan en wonderbaarlik die gebruik van haar ledemate teruggekry, of was alles bloot goed georkestreer en in die regte formaat opgedis?
Ek weet nie. As 'n mens egter in ag neem dat geloofsgenesings dikwels oëverblindery is, dat Knox se “genesing” baie opsigtelik gebeur het in 'n liturgiese ruimte met 'n spul kameras en die oë van 'n opgesweepte gemeente (sommiges rol tot in delirium op die grond rond) op haar gerig en dat die onvoorwaardelike aanvaarding van haar spesifieke storie oor die gebeurtenis finansieel voordelig vir die gemeente sou wees op die kort- sowel as die langtermyn, dan vermoed ek Bay of the Holy Spirit het dit eerder reggekry om wol oor die wêreld se oë te trek.
Om die teendeel te wil staaf deur bloot uit te wys dat sy rondgeloop het, is nie voldoende nie.