Iets wat my nogal byval oor die Vryheidsfront Plus-jeug se reaksie op die “verwydering van God” uit Kovsies se leuse, is hul beswaar dat studente nie oor die verandering geraadpleeg is nie. So 'n beswaar is natuurlik net sinvol as studente dieselfde belange as die universiteitsbestuur het – as hulle intiem deel van die instansie is en nie bloot betalende kliënte wat kontant ruil vir 'n diens nie.
Ek is oortuig 'n mens sou so 'n argument kon maak (dis nie 'n vergesogte idee dat studente se alma mater op 'n manier aan hulle “behoort” nie), maar dan sit jy met hierdie ou aanhalinkie van 'n jaar of wat gelede:
Die VF Plus Kovsies is van oortuiging dat die studente wat klagtes [oor Prof RE Moraka] het, betalende kliënte van die UV is en dat hul griewe ernstig opgeneem moet word.
Nou ja, toe, nou’s ek deurmekaar. Watter een is dit nou? Intiem deel van die universiteit, of bloot “betalende kliënte”?
Betalende kliënte het nie 'n sê in 'n besigheid se bestuur nie.