Die mite van ‘n “korrekte Engelse uitspraak”

Tydens vanjaar se staatsrede het President Zuma heelwat kritiek oor sy Engelse aksent ontvang. Sy uitspraak, het mense spottend gereken, dui op 'n lae opvoedingspeil en is 'n verleentheid vir die land. As Mbeki dit kon regkry om behoorlik Engels te praat, hoekom kan hy nie ook nie?

‘n Mens sou seker 'n saak kon maak dat dit op 'n laer opvoedingspeil dui (as jy regtig hard probeer, sal jy seker genoeg onopgevoede Zoeloes kon vind en ooreenkomste in hul Engelse dialekte vind), maar dit sal 'n futiele oefening wees. Daar is naamlik nie iets soos die “korrekte uitspraak” van 'n taal – enige taal – om mee te begin nie.

Ek sou byvoorbeeld graag by Zuma se kritici wou weet wat hierdie korrekte uitspraak dan nou juis behels. Hulle sal vermoedelik antwoord deur te verwys na iets soos die Amerikaanse dialekte wat vir ons op televisie gevoer word, of die Engelse dialek van wit Suid-Afrikaners wie se moedertaal Engels is. Reeds hier sit hulle met 'n probleem. Engels, sou 'n mens kon argumenteer, het nie in Amerika of Suid-Afrika ontstaan nie. Sekerlik moet 'n mens eerder na die Britse aksent verwys as die korrekte een?

Ook hierdie argument sal nie veel hê om op te staan nie. Dit is onsinnig om van 'n “Britse aksent” te praat, omdat mense in verskillende dele van Brittanje verskillende Engelse dialekte het. Hierdie dialekte het skaars 'n paar eeue gelede heeltemal anders as vandag geklink. Wanneer 'n mens boonop in ag neem dat Frans in 'n stadium 'n groot invloed op Engels gehad het, raak dit heeltemal absurd om bloot van 'n “korrekte Engelse uitspraak” te praat. Engels was nog nooit “klaar” of “korrek” nie en sal ook nooit wees nie. Dieselfde geld vir enige ander taal.

Om iemand se opvoedingspeil die skuld vir 'n spesifieke uitspraak te gee, is nie net afbrekend nie, dis ook (taalkundig gesproke) 'n baie ongesofistikeerde verklaring. Zuma se Engelse uitspraak is nie te danke aan sy opvoedingspeil nie, maar aan die fonologie van sy moedertaal.

Gesproke taal is, op 'n suiwer biologiese vlak, die artikulasie van lug. Wanneer mense praat, vind hierdie artikulasie plaas op grond van verskeie fonologiese patrone – reëls, as jy wil – waaroor niemand werklik dink wanneer hulle praat nie. Om 'n geskrewe teks voor te lees, vereis dat jy die gedrukte simbole voor jou moet interpreteer en in klanke omsit. Om dit te doen, moet 'n kombinasie van hierdie patrone ingespan word.

Fonologiese patrone word veral tydens 'n mens se kinderjare vasgelê en neig om hoofsaaklik dié van jou moedertaal te wees. Aangesien verskillende tale verskillende klanke behels en hierdie klanke om die beurt deur verskillende geskrewe simbole voorgestel kan word, is dit te wagte dat die uitspraak van 'n bepaalde taal se moedertaalsprekers van nie-moedertaalsprekers sal verskil.

As jy byvoorbeeld 'n Amerikaner is en iemand vra jou om “Cobus Potgieter” te sê, sal jy sukkel om die frikatief in die tweede woord (wat in hierdie geval deur die letter “g” voorgestel word) uit te spreek. Dit sal 'n onbekende klank vir jou brein wees. Insgelyks sal 'n Nederlander wat met die woord “ukugqabhuka” gekonfronteer word sy tong lekker knoop en waarskynlik glad nie die woord uitspreek soos 'n Xhosasprekende dit sou doen nie. Nederlandse fonologie bevat eenvoudig net nie hierdie klanke nie.

Zuma se moedertaal is Zoeloe. Die fonologiese reëls van Zoeloe verskil van dié van Engels. Wanneer Zuma 'n Engelse toespraak lees en hy nie klink soos jy dink hy moet klink nie, het dit niks met sy opvoeding te make nie. Dis eerder omdat die stel klanke wat hy van kindsbeen af aangeleer het, verskil van joune. Vir hom is dit nie afwykend nie, maar die beste fonologiese interpretasie moontlik van die woorde wat hy moet voorlees.

Een aksent is nie beter as 'n ander een nie. Die “korrekte uitspraak” van 'n taal bestaan slegs in soverre dit deel is van 'n groep mense se kulturele vooroordele. Buite hierdie vooroordele beteken dit weinig.

This entry was posted in Taal and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>