Soms is dit lekker om dom te wees

“Obrigado! Obrigado!”

Ons sit in 'n skuit langs die kus van Mosambiek (die dorpie waar ons oornag, heet Vilankulos) en maak mildelik gebruik van die enigste Portugese woord wat ons regtig ken. Saam met 'n ander paar toeriste wag ons opgewonde om by 'n rotsrif langs 'n eiland te gaan snorkel.

Alles is gelaai – paddavoete, duikbrille, sonbrandolie. Die skipper en sy bemanning glimlag breed – hulle het pas R1500 uit ons gemaak vir 'n bootrit wat 'n fraksie van die prys in Kaapstad sou kos.

Toeriste is mos maar dom goed.

Agter op die skuit is 'n motorbootenjin gemonteer. Dié se geroeste petroltenk staan sommer apart agter op die skip. Na 'n paar rukke aan die enjin se tou brul die ding en begin ons stadig in die rigting van die eiland te vaar.

Vir honderde meters aaneen is dit asof ons in vlakwater is. Wanneer ons oor die skuit se rant loer, kan ons die seebodem sien. Die water is klokhelder, die watersproei spat verkwikkend teen ons gesigte en die son in die blou, blou lug daarbo bak ons terwyl ons stadig in die rigting van die eiland vaar. Af en toe swem 'n skool visse verby.

Ons halt.

“Sorry, guys. We just wanna buy some crabs.”

O?

“Yes. From this guy.”

Vanuit nêrens kom 'n duiker in 'n rooi duikpak te voorskyn. Hy haal sy duikbril af, trap water en bring 'n lang string krappe en 'n vis of twee te voorskyn. Die skipper tel ons, haal sy beursie uit en skaf 'n paar van die weekdiere aan. Hierna daal die harpoenkapitalis weer in die water neer, terwyl die bemanning ruk-ruk aan die enjin se tou. Off we go again.

'n Rukkie later stop ons weer. Hierdie keer is daar egter nie 'n duiker in die omtrek nie. Die enjin het gesputter – en die enjin het gevrek.

Die bemanning skarrel behoorlik rond om dit weer aan die gang te kry. Hulle ruk aan die tou tot sweet op hul voorkoppe pêrel, maar die enjin weier om te vat. Die helderkleurige skuitjie lyk skielik sommer baie lendelam (en kraak ook skielik sommer heeltemal te veel na my sin). Stadig maar seker begin dit van kant tot kant wieg, soos die golwe daarteen slaan. Met elke golf wieg dit al hoe meer, tot dit later voel of ons gaan omkap. Ek begin uitwerk hoe diep water is.

Een van die dames wat saam met ons toer, klim stadig van die kant van die skuit waar sy gesit het af tot onder in die boeg en gaan sit bewegingloos, bene geknerp. (Nie die slimste posisie as jy wil opgooi nie, dag ek by myself.)

Na wat soos 'n ewigheid voel (en nadat die skuit amper omgedop het), brul die enjin weer.

By die eiland aangekom, snorkel ons in die helder water terwyl die bemanning middagete op die skuit voorberei. Ons eet onsself trommeldik aan goed wat ons nie gewoonlik sal eet nie (soos die krappe wat vroeër by die duiker aangeskaf is) en lê ledig onder kokosbome en dut.

Wanneer die middagson begin verdwyn, klim ons terug in die skuit. Die enjin wil weer nie vat nie, maar dit gooi die bemanning nie van stryk af nie: hulle laat sak sommer die vaartuig se seil. Amor du Mar, pryk die naam daarop. Liefde vir die see.

Stil-stil vaar ons terug. By die kusdorpie aangekom, help die bemanning ons van die skuit af. “Obrigado”, bedank ons hulle weer 'n paar keer en val sleepvoet in die pad na die huisie waar ons oornag. Moeg, maar gelukkig. Die rit was nie die prys werd nie, maar dit was beslis die moeite werd. Toeriste is mos maar dom goed.

Soms is dit lekker om dom te wees.

Oorspronklik gepubliseer op Weg.co.za

This entry was posted in Self and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>